
Cape Wools se Merino-aanwyser het op die jongste veiling, wat op 6 Maart plaasgevind het, met 1,9% gestyg en ’n sluitingsprys van R221,78/kg (skoon) is behaal. Sowat 90% van die 10 476 bale wat aangebied is, is verkoop.
Goeie lang wol se sluitingsprys het met 4% gestyg. Volhoubare wol het veral op die veiling aandag getrek, met dié sluitingsprys wat met meer as 4% gestyg het.
Die volgende veiling is op 13 Maart, wanneer sowat 6 400 bale aangebied sal word.
Australiese wolmark
Australiese wolpryse het einde Februarie gunstig gereageer op die aankondiging van die verbod wat China weens bek-en-klouseer geplaas het op die invoer van wol uit Suid-Afrika en op die nuus dat die veiling van 20 Februarie uitgestel is. Die Australiese wolindeks het op die veiling van 6 Maart met 0,3% gestyg.
Volgens die Australiese landbou-ontleder Mecardo word verwag dat die Australiese markte sterk sal bly.
Uitvoerverbod
Mnr. Deon Saayman, bestuurder by Cape Wools, sê die regering se handelskomitee lewer ’n groot bydrae om die Chinese verbod te probeer omkeer. “Ons moet nou net tyd gee vir al die nodige prosedures om plaas te vind. Dit is moeilik om ’n tydraamwerk daaraan te koppel.”
Sterker wol het swakker vertoon weens ’n tekort aan belangstelling uit China. Weens die Chinese verbod was daar ook ’n skerp daling in die prys van korter wol.
Mnr. Isak Staats, hoofbestuurder van wol en bokhaar by BKB, sê die veilings verloop nog goed en hulle is tevrede dat wol steeds verkoop. Volgens Staats koop kopers wol aan om dit op te berg. Dit word egter teen ’n risiko gedoen.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.