
Luidens die Cape Wools-verslag het pryse reg oor al die mikronkategorieë toegeneem. Die prys vir nie-gesertifiseerde wol het met 9,3% verbeter tot R165,67/kg en die prys van gesertifiseerde wol het met 11% toegeneem het tot R175,15/kg teenoor die veiling op 30 November 2022.
“Die aanbod het bestaan uit ’n baie beperkte volume volhoubare wol, met 21,4% van die Merinowol wat aangebied is, wat gesertifiseer is as volhoubare wol wat pryse verder opgestoot het,” lui die Cape Wools-verslag.
Net meer as 50% van die aanbod het bestaan uit lang fynmikronwol.
Die derde hoogste prys vir die seisoen van R257,10/kg is betaal vir ’n baal van 16,2 mikron-wol, met ’n skoonopbrengs van 73,9%, en ’n treksterkte van 39 van die Tweeddale-boerdery van mnr. Richard Armstrong van Cathcart in die Oos-Kaap. Armstrong het boonop nege van die toptien pryse vir sy wol gekry en sy skeersel is aangewys as die bes geklasseerde wolskeersel vir die week.
Die Australiese mark het effens met 0,45% toegeneem sedert die veiling op 15 Desember 2022, maar het in dollarwaarde heelwat beter gevaar.
Volgens die Australian Wool Innovation was daar ’n sterker vraag van China, wat weer te sien was aan die einde van Desember 2022. Die Chinese mark het aan die einde van 2022 stoom begin verloor weens streng inperkingsregulasies, wat sedertdien verslap is.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.