
Die logistieke probleme in die verskepingsbedryf het daartoe gelei dat die wolbedryf tydens ’n dringende vergadering besluit het dat vandeesweek se wolveiling nie sal plaasvind nie.
Luidens ’n verklaring sê Cape Wools belanghebbendes het vergader oor die vinnig veranderende situasie oor die verskepingsvertragings wat ervaar word met die uitvoer van wol.
“Weens die verergerende situasie vir beskikbare ruimte op skeepslyne en die globale beperkinge op die verskaffingsketting raak dit moeiliker om vol te hou met normale aktiwiteite totdat die agterstand van onverskeepte houers weggeruim is.”
Daar is dus besluit om die 22ste veiling van die 2021-’22-bemarkingseisoen af te stel en vandeesweek se katalogus sal oorskuif na volgende week. Veilings sal waarskynlik uitgestel sal word tot ná die sluitingsdatum van die huidige seisoen.
Volgens Cape Wools sal die situasie voortdurend gemonitor word in die lig van die jongste inligting.
“Hoewel die woluitvoer in ander lande ook geraak word deur die verskepingskrisis wêreldwyd, word Suid-Afrika se uitvoer verder belemmer deur die swak prestasie van Suid-Afrika se hawens,” sê mnr. Isak Staats, hoofbestuurder van wol en sybokhaar by BKB.
Volgens Staats is die Kaapse hawe reeds twee weke agter skedule, en moet skepe ten duurste in die hawe lê en wag.
Die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf is vanjaar reeds swaar getref deur oponthoude by Suid-Afrikaanse hawens. Volgens mnr. Jacques du Preez, hoofbestuurder van handel en markte by Hortgro, sal die probleme by die Kaapse hawe weens logistieke probleme nie vanjaar reggestel word nie (bit.ly/34JhT1u).
Mnr. Parash Jain, hoof van verskeping by die handelsbank HSBC, het einde Januarie gewaarsku dat China se geen-covid-beleid om die verspreiding van covid-19 te voorkom, ’n groot impak sal hê op die herstel van globale verspreidingskettings na afloop van die pandemie.
Sewe van die grootste hawens vir vragskiphouers is in China en met 90% van alle handelsgoedere wat verskeep word, sal inperkings in enige van die hawens wêreldwyd gevoel word. Die land het ook boonop onlangs die Chinese Nuwejaar gevier, wat verder kan bydra tot oponthoude.