
“In hierdie stadium verloop die veilings goed. Ons is ingenome dat wol steeds verkoop. Ons kan tans nie kla nie,” sê mnr. Isak Staats, hoofbestuurder van wol en bokhaar by BKB.
Volgens Staats koop die kopers wol aan om dit op te berg. Dit word egter teen ’n groot risiko gedoen.
Wolveilings in Port Elizabeth het hervat nadat die veiling van 20 Februarie uitgestel is weens die Chinese verbod.
Vandeesweek is twee veilings aangebied, met die veiling wat vir 20 Februarie bepaal is, wat ook vandeesweek aangebied is. Op die eerste veiling was die sluitingsprys R218,17/kg, wat 0,3% laer was as op die vorige veiling. Op die veiling van 27 Februarie was die sluitingsprys R217,60/kg, met die Cape Wools Merino-aanduider wat met ’n verdere 0,3% gedaal het.
Luidens die Cape Wools-verslag het vraag uit Europa bygedra tot die goeie vertoning van fyner wol, met sterker wol wat swakker vertoon het weens ’n tekort aan belangstelling uit China. Die Chinese verbod het ook bygedra tot ’n skerp daling in die prys van korter wol.
China kry dringende aandag
Luidens ’n verklaring van die departement van landbou, bosbou en vissery word ’n handelsafvaardiging van die departement binne die volgende paar weke na China gestuur om die verbod op uitvoer met die Chinese departement van dier-en-plantkwarantyn te bespreek.
Volgens mnr. Deon Saayman, bestuurder by Cape Wools, wat Maandag die handelsvergadering in Pretoria bygewoon het, geniet die krisis aandag op die hoogste vlak. “Ons het dit baie duidelik gestel dat die kwessie dringend bygelê moet word en die direkteur-generaal en minister van landbou is deeglik bewus van hoe die situasie ontwikkel.”
Volgens Saayman lewer die handelskomitee tans ’n groot bydrae om die probleem te probeer oplos. “Ons moet nou net tyd gee vir al die nodige prosedures om plaas te vind. Dit is moeilik om ’n tydraamwerk daaraan te koppel.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.