
Volgens mnr. Isak Staats, voorsitter van die markte-intelligensiekomitee by die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO), is die wolbedryf bedrywig in ’n baie verspreide verskaffingsketting, wat altyd nog tot sy voordeel was, “met elke stap in die verskaffingsketting wat homself toespits op sy eie, unieke eienskappe deur samewerking om ’n funksionele proses te verseker”. Hy was ’n spreker tydens die IWTO se jaarkongres in Puyuan-Tongxiang, China.
Die nadraai van die covid-19-pandemie en Rusland se oorlog in Oekraïne sal groot nagevolge vir die bedryf op medium- en lang termyn hê, glo Staats.
“Ongelukkig veroorsaak ’n geglobaliseerde verskaffingsketting dat ons baie weerbaar is teen groot ontwrigtings in ons stelsel wat buite ons beheer is, en dit was duidelik die afgelope paar jaar.”
Dié ontwrigtings is ook in ander bedrywe gevoel.
Verskeie ekonomieë begin nou om hul verskaffingskettings meer plaaslik te maak om hul eie ekonomie te beskerm en hulself teen verskaffingskettingsrisiko’s te beskerm.
Staats het gesê die ongunstige uitwerking van “ontglobalisering” is dat samewerking tussen besighede meer kompleks word. Regerings dwing dit onder meer af deur handelsbeperkinge te skep deur middel van invoerregulasies.
Verdere probleme vir die bedryf is die konflik tussen Rusland en Oekraïne wat lei tot aansienlike toenames in inflasie vir ekonomieë wat gewoond is aan stabiele omgewings. “Ons verskaffingsketting is veral weerbaar vir dié toenames omdat ons baie energie-intensief is.”
Inflasie
Buiten die finansiële implikasies van die verhoogde inflasie is verbruikers meer onseker en sakevertroue ly daaronder
Die inflasiestyging is veral sigbaar in Europa. Inflasie het begin toeneem in reaksie op stimuluspakkette wat regerings ingestel het om bevolkings by te staan met herstel ná die pandemie.
Die afname in die lewering van natuurlike gas deur Rusland skep die perfekte storm vir ekonomieë, met verbruikers wat die las dra weens die toename van pryse van basiese kommoditeite.
Tans is die vooruitsig vir die groeikoers van alle groot wolverbruikende ekonomieë, behalwe China, negatief.
Die koste van vragskiphouers het ook sedert die aanvang van die pandemie die hoogte in geskiet, maar dit lyk asof verskepingskoste begin stabiliseer.
Aardverwarming
Staats het gesê aardverwarming raak nou ál meer van ’n werklikheid. “Ons as bedryf is blootgestel aan die probleem aangesien wolproduksie in eksterne omgewings plaasvind wat blootgestel is aan klimaatsverandering. Daarby is daar ook die voortgaande debat rondom die metaangasvrystelling van herkouers soos skape.”
Verbruikers se gedrag het tydens die pandemie verander omdat hulle nie begrafnisse en troue bygewoon het nie en nie meer kantoor toe gaan nie, met die vraag na geweefde materiaal wat gevolglik verminder.
Staats meen die prys van wol, wanneer dit met ander tekstiele soos katoen vergelyk word, is steeds goedkoop en dat daar ’n opwaartse potensiaal is vir die wolprys. Sterkwol is egter onder druk.
Hy het gesê hoewel die sertifiseringskemas wat tans aangebied word, vir talle boere ’n irritasie is, is die bedryf besig om te reageer op verbruikers se voorkeure.
Die sertifiseringskemas bied vir die produsente die geleentheid om hul storie te vertel en markte in die wêreld stel ál meer belang in hoe tekstiele geproduseer word. Die markte stel nie net belang in die gehalte van die wol nie, maar ook in die oorsprong van wol en kyk na ander impakte as net sertifisering.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.