
Die gebruik van donkiemelk is nie ’n nuutjie vir die mensdom nie, maar is nie deesdae so algemeen soos in die verlede nie. Volgens die International Business Times (IBS) het Hippokrates, die Griekse medikus, die genesende eienskappe van donkiemelk eeue gelede al geprys en het antieke koninklikes van Egipte, Rome en Frankryk daarin gebad om hul jeugdigheid te behou.
Hulle het blykbaar iets beetgehad. ’n Franse firma vervaardig nou produkte soos seep en lyfrome met donkiemelk. Volgens die FAO, die Verenigde Nasies se landbou- en voedselorganisasie, is die antibakteriese elemente in donkiemelk ’n honderd keer meer aktief as in beesmelk en bevat dit teenallergene, wat behulpsaam is vir mense met sekere velallergieë en lugwegprobleme. Dit word ook aanbeveel vir veral kinders wat nie beesmelk, soja of ander melkvervangers mag geniet nie.
Ondanks al dié voordele bly die produksie van donkiemelk ’n klein bedryf. ’n Donkiemerrie kan net minder as twee liter melk per dag verskaf terwyl ’n melkkoei 50 liter kan verskaf. Volgens die IBS verkoop een liter donkiemelk in Ciprus vir ’n gemiddelde prys van €24 of $30 - dit is tussen R300 en R400. Telers meen ook dat donkies makliker is om te teel as beeste of perde.
Lees die hele berig hier.