Die SA Veeartensykundige Raad (SAVR) wil wysigings aan sy regulasies aanbring wat sal meebring dat slegs opgeleide veeartse in die toekoms dragtigheidsondersoeke by diere kan doen en groeistimulante kan inplant.
Dit volg ná 'n saak in die Volksrust se Landdroskantoor waarin mnr. J.J. Louw (wat sy eie sonardiens bedryf, maar nie 'n gekwalifiseerde veearts is nie) onskuldig bevind is dat hy die Wet op Veeartenydienste oortree het deur 'n fisiologiese of patologiese diagnose te maak.
Die voorgestelde wysiging sal meebring dat verskeie individue, insluitende wolmakelaars wat tans die diens lewer, van 'n inkomste ontneem sal word," het dr. Theuns Laas, 'n boer en veekundige van Volksrust in Mpumalanga, gesê.
Laas het aan Landbouweekblad gesê hoewel die landdros Louw onskuldig bevind het dat hy die Wet op Veterinêre en Para-Veterinêre Beroepe oortree het deur 'n fisiologiese of patologiese diagnose te maak, het die SAVR kort daarna 'n brief aan sy lede gestuur. Daarin word aanbeveel dat die regulasies gewysig word en dat geen mediese instrument deur iemand wat nié as veearts geregistreer is, gebruik mag word vir die diagnose van siektes, dragtigheid en fisiologiese of patologiese diagnoses by diere nie.
In die brief word 'n mediese instrument beskryf as "enige instrument, toebehore, materiaal, masjien, apparaat, implantaat of diagnostiese reagent".
Laas wys daarop die verbod op die gebruik van dié instrumente mense wat sonardienste lewer — selfs diegene wat deur veeartse opgelei is — insluit. "Die probleem is dat daar nie genoeg veeartse in die land is om die werk te doen nie en talle instansies, soos wolmakelaars, wat tans die diens lewer, dus van 'n inkomste ontneem sal word."
As die voorgestelde wysigings wat tans vir kommentaar voorgelê is, aanvaar en toegepas word, sê hy dat 'n boer wat sonartoerusting het (dit kan vrylik oor die toonbank gekoop word), nie eers sy buurman se diere vir dragtigheid sal kan skandeer nie.
Laas sê as die wysigings aanvaar word, behoort daar ook reëls te wees wat veeartse verbied om veekundige dienste te lewer aangesien almal nie as voeding- en telingskundiges opgelei is nie.
Me. Hanri Kruger, registrateur van die SAVR, het bevestig dat 'n wysiging voorgestel is. Dit is gedoen om enige onduidelikheid uit die weg te ruim. "Die gebruik van 'n mediese instrument vir die maak die diagnose, behandeling, voorkoming of monitering van 'n siektetoestand, asook die diagnose van of voorkoming van dragtigheid, 'n fisiologiese of patologiese toestand van 'n dier, is nou deel van die definisie."
Kruger het egter beklemtoon dat waar daar 'n tekort aan opgeleide veeartse is om die werk te doen, die wet voorsiening maak dat die SAVR individue kan bemagtig om veterinêre of paraveterinêre dienste te lewer.
"Dit sal verseker dat indien iemand by magte is om die diens te doen, hy of sy dan ook aan die SAVR verantwoording sal moet doen vir sy of haar professionele gedrag. Die daarstelling en monitering van minimum standaarde verseker die SAVR dat geregistreerde veeartse behoorlik opgelei word vir die lewering van veterinêre dienste."
Kruger sê dit is in belang van die publiek dat veterinêre dienste slegs deur persone wat deur die SAVR geregistreer of bemagtig word, gelewer word. "Deur die neerlê van minimum opleidingstandaarde word daar verseker dat dit deur opleidingsinstansies gehandhaaf word en bring ook mee dat persone na hulle gekwalifiseer is, steeds op hoogte van veranderinge bly".
Sy sê die handeling waarvoor Louw aangekla en onskuldig bevind was, het plaasgevind vóór die wysiging van reël 2 op 18 Januarie 2002 in werking getree het. Ingevolge die wysiging is die diagnosering van, óf advies met betrekking tot 'n fisiologiese toestand van 'n dier, ingesluit by die definisie van die lewering van 'n veterinêre diens.
Sy sê egter dat 'n boer steeds sy eie diere sal kan behandel en vir dragtigheid kan ondersoek.
Landbouweekblad, 14 Maart 2008