
Die Wêreld Bosbouberaad sal in 2015 in Suid-Afrika aangebied word, sê die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Luidens ‘n verklaring is dit die eerste keer in sy 85 jarige geskiedenis wat dié beraad in Afrika aangebied sal word. Die departement sal die beraad namens die Regering in Durban aanbied.
Suid-Afrika was aktief betrokke by die berade wat in 2003 en 2009 onderskeidelik in Kanada en Argentinië aangebied is.
SA se bydra
Suid-Afrika is sedert 1992 betrokke by die dialoog oor volhoubare woud-ontwikkeling, en het ‘n aandeel gehad in die samestelling van die internasionale regulasies vir woude deur die Verenigde Nasies se Forum vir Woude en sy voorgangers.
Die land was ook in staat daartoe om by te dra tot ‘n volhoubare ontwikkelingsagenda vir Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-lande, asook vir Afrika. Om gasheer vir die beraad te speel, glo die departement, sal dié agenda verbeter en Suid-Afrika se bydrae tot die ontwikkeling van woude in die Kongo vergroot.
Intussen sê Forestry SA hy is genader om ‘n aanbevelingsbrief te skryf vir die departement se aansoek om die beraad aan te bied. Die organisasie se raad het dit goedgekeur, en ‘n brief is gestuur.
Die organisasie meen die internasionale blootstelling wat met die beraad gepaard sal gaan, sal goed wees vir die land en die bedryf.
8 Desember 2010