
Die wêreld se eerste kassawebier wat kommersieël gebrou word, is dié week deur SABMiller bekend gestel. Luidens ’n berig op Sake24.com sal Impala deur Cervejas de Moçambique (CDM), die groep se filiaal in Mosambiek, gebrou word.
Mnr. Graham Mackay, uitvoerende hoof van SABMiller, sê dié skepping vorm deel van sy strategie om ’n verskeidenheid bekostigbare biere van ’n hoë gehalte vir verbruikers met ’n lae inkomste te ontwikkel.
Die bier word uit ’n mengsel van 70% kassawe en 30% gars gebrou. Dit sal aanvanklik in die landelike gebiede van Mosambiek versprei word.
Voordele vir landbou
Die inisiatief hou nie net voordele vir bierverbruikers in nie, maar dit kan ook Mosambiek se landboubedryf bevorder. ’n Vennootskap daarvoor is reeds gestig.
Volgens die vennootskap sal SABMiller, die Dutch Agricultural Development and Trading Company (’n ontwikkelingsmaatskappy) en Mosambiek se regering jaarliks sowat 40 000 ton kassawe teen ’n bestendige prys by sowat 1 500 bestaansboere koop.
“Die ontwikkeling van ’n volhoubare mark vir kassawe kan ’n ekonomiese ontwikkelingsrol speel in afgeleë landelike gebiede waar bestaansboere voorheen gesukkel het om al om die ander week ’n sak kassawe te verkoop,” aldus mnr. Peter Bolt, besturende direkteur van Dadtco.
Nie in Suid-Afrika
Dié bier sal na verwagting nie in Suid-Afrika bemark word nie, hoewel SABMiller dit reeds oorweeg om dit in ander Afrika-lande, waar kassawe verbou word, te brou.
’n Proeflopie vir verkope is reeds in die noorde van Mosambiek onderneem, en sowat 300 000 bottels is binne twee dae verkoop.
Bron: Sake24.com
2 November 2011