Uitstekende vordering is die afgelope twee maande met die Elim-melkeryprojek in die Wes-Kaap gemaak. Die projek staan onder die leiding van 'n komitee bestaande uit strategiese vennote en is onder die voorsitterskap van die MPO Wes-Kaap.
Luidens 'n nuusverklaring deur mnr. Dèan Kleynhans, voorsitter van die MPO in die Wes-Kaap, sal die projek teen einde Mei al sy eerste weidings aangeplant het, danksy die hulp van die insetverskaffers en die kommersiële boere van die Haasvlakte-boerevereniging wat van hulle trekkers beskikbaar gestel het om die weidings in die grond te kry. 'n Opkomende boer is die kontrak toegeken om kuilvoer, hooi en strooi aan die melkery te voorsien. Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het reeds 30 koeie aangekoop en inwoners van Elim het self tien beeste om tot die projek by te dra. Die keuring van 'n melkerybestuurder en werkers is in proses en hulle sal dan volwaardige SETA-geakkrediteerde kursusse deurloop.
Die oogmerk is om die eerste jaar met 40 koeie te begin en uiteindelik as 'n volwaardige besigheidseenheid met 500 koeie te stabiliseer.
Die melkeryprojek is vyf jaar gelede geïdentifiseer en die Wes-Kaapse Departement van Landbou is genader om met die oprigting daarvan behulpsaam te wees. Die projek is in vier fases ingedeel. Die eerste is die beplanningsfase, waarna die skepping van infrastruktuur volg. Fase 3 behels die inwerkingstelling van die produksie-eenheid en die vierde fase fokus op mentorskap.
Die volgende strategiese vennote is geïdentifiseer om met fase 3 te help:
- Die Elim-gemeenskap.
- Wes-Kaapse Departement van Landbou.
- Die MPO en Cendel (Sentrum vir Produsente-ontwikkeling). Cendel bestuur die mentorprogram met befondsing van Melk SA.
- Die Overberg-distrikslandbouvereniging wat kommersiële boere verteenwoordig.
vInsetverskaffers wat insluit Overberg Agri (Landboubesigheid), Meadow Feeds.
(veevoermaatskappy), Terrason (chemies), Omnia (kunsmis), Erasmus Petroleum (brandstof), Cape Gate (drade en pale) en Parmalat (melkkoper).
Verskeie planne is opgestel om die kudde uit te brei. 'n Opgedateerde besigheidsplan word tans saamgestel om aan die Wes-Kaapse Departement van Landbou voor te lê vir verdere finansiering van kapitaal. Verder bied die inhuur van koeie verskeie voordele. Die komitee beplan om spesiaal gestruktureerde lenings deur banke te fasiliteer, sodat opkomende gemeenskappe melkkoeie kan aankoop en sodoende tot landbou kan toetree.
Tweedens kan kommersiële melkprodusente ook koeie aan die projek verhuur en daardeur punte op hulle SEB-telkaarte verwerf. Melkprodusente kan ook hulle werknemers met behulp van lenings of skenkings help om koeie aan die Elim-projek te verhuur.
Fase 4 is die mentorfase, waar alle vennote op hulle onderskeidelike terreine sal help met die monitering en implementering van die strategiese en besigheidsplan om toe te sien dat die melkery volhoubaar groei en ontwikkel. Die toevoeging van verdere waarde tot die projek sal ook tydens dié fase ondersoek word.
- Vir nadere inligting, kontak Dèan Kleynhans by 082 894 0413.
25 Mei 2007