
Die Engelse weergawe van die topverkoper Vra die Veearts – Wat beesboere moet weet (1) is pas gepubliseer.
Ongeveer 4 000 Afrikaanse eksemplare van hierdie nuttige handleiding, waarin veeartse praktiese vrae van beesboere toelig en beantwoord, is reeds verkoop.
Die titel van die Engelse weergawe is Ask the vet – What cattle farmers should know (1). Die boek is saamgestel deur die bekende veearts, dr. Faffa Malan. Landbouweekblad is die uitgewer.
Malan is onder meer die aanbieder van die Vra vir Faffa-afdeling op Landouweekblad se webwerf, landbou.com. Hy is in 2008 deur Landbouskrywers SA as Suid-Afrika se Landboukundige van die Jaar aangewys.
Die nege hoofstukke in die A5-boek bestaan uit 91 artikels wat Malan en ’n aantal mede-veeartse vir landbou.com geskryf het, na aanleiding van vrae wat beesboere aanlyn gevra het. Die hoofstukke is oor bestuur, voeding, groeibevorderaars, suiwel, parasiete, siektes, enstowwe, middels en vergiftigings. Die 168 bladsye en die A5-formaat maak die boek ’n stewige hulpmiddel vir elke beesboer. Die boek sal gemaklik in ’n bakkie se paneelkissie nes kan skop.
Praktiese aspekte van beesboerdery
Die boek fokus op praktiese aspekte van beesboerdery, soos die kastrasie van kalwers, onthoorning, opblaas op lusernweidings en raad oor die gebruik van boererate, soos aalwyn vir bosluise, eie konkoksies en die gebruik van lekke.
Aan die ander kant bied die boek terselfdertyd wetenskaplike inhoud aan met artikels wat onderwerpe bespreek, soos spoorelemente vir herkouers, inplantate, parasiete en parasietbestryding, en beskrywings van die belangrikste siektes wat by beeste voorkom.
Kortom, dié besonderse handboek bevat inligting wat al in grootvee-handboeke gedokumenteer is, maar dit bied ook inligting aan wat dalk nie opgeteken is nie, maar deur ervaring en die gesproke woord tussen veeartse en boere oorgedra word.
ISBN: 978-0-620-51741-6
Prys: R250 (BTW en posgeld ingesluit)
Bestellings: Tel.: 021 406 4962 of ’n e-pos stuur na lbw@media24.com
27 Oktober 2011