
Die landbou gaan tydens die 17de kongres oor klimaatsverandering in Durban (COP 17) meer aandag geniet as by vroeëre kongresse, aldus die Departement van Omgewingsake.
Mnr. Alf Wills, Suid-Afrika se hoof-onderhandelaar oor klimaatverandering, sê meer aandag sal geskenk word aan sektoriale benaderings vir die landbou, asook vir die internasionale vervoerbedryf. “Sekere sake onder die Bali-ooreenkoms oor dié sektore is nog nie afgehandel nie, so dit sal hoog op die agenda wees.”
Tydens ‘n beraad oor die kongres, wat Vrydag (4 November) in Johannesburg gehou is, het Wills gesê dít is van die sake wat in die witskrif oor die kongres opgeneem is.
Mnr. Peter Loockey, ‘n verteenwoordiger van die nasionale klimaatsveranderingsreaksie beleid, sê ook dat spesifieke aandag aan die landbousektor, asook aan bosbou en bio-diversiteit geskenk sal word.
Nie wetlik bindende ooreenkoms
Wills sê verskeie formele en informele vergaderings is die afgelope jaar gehou. Volgens hom het dit tydens dié vergaderings duidelik geword dat ‘n wetlik bindende ooreenkoms in verband met die Kyoto protokol, oor kweekhuisgas vrystelling, nie in Durban bereik sal word nie.
“Soos wat in Cancun in Meksiko die geval was in 2010, sal Durban vanjaar nóg ‘n stap wees in die proses om so ‘n ooreenkoms te bereik,” aldus Wills.
Sleutelkwessies
Volgens Wills sal die kongres fokus op die sleutelkwessies van die Kyoto-protokol waarop nie tydens die Cancun-kongres ooreengekom kon word nie.
Drie basiese benaderinge sal bespreek word; eerstens om nader te kom aan ‘n wetlik bindende ooreenkoms ten opsigte van die Kyoto protokol, tweedens om moontlik ‘n ander protokol dokument saam te stel en derdens om moontlik die Kyoto protokol totaal op te hef.
Vurige debatte word ook verwag oor die doelwit van ‘n slegs twee grade Celsius temperatuurstyging wêreldwyd. “Om dié doelwit te bereik, gaan die ontwikkelende lande 70% van die werk moet doen, terwyl ontwikkelde lande slegs 30% hoef by te dra, en baie mense meen dit is onregverdig,” sê Wills.
4 November 2011