
Die kanse is redelik goed dat daardie splinternuwe Ford waarmee jy binnekort uit die vertoonlokaal ry straks só effe van ’n tamatiegeur kan hê!
Hoewel dít vir die meeste mense erg vreemd mag klink, dink navorsers van die Ford Motor Company en H.J.Heinz Company beslis nie dat dit só vergesog is nie.
Inteendeel, dié twee maatskappye ondersoek die moontlikheid om tamatievesels te omskep in saamgestelde materiale wat by die vervaardiging van voertuie gebruik kan word. Tamatieskille kan byvoorbeeld omvorm word tot draagklampe vir voertuie se bedradingstelle of vir konsolehouers waarin snuisterye of muntstukke geberg kan word.
Me. Ellen Lee, 'n plastieknavorsingspesialis van Ford, sê hulle stel ondersoek in hóé neweprodukte van die voedselverwerkingsbedryf in voertuigvervaardiging byklank kan vind. “Ons doel is om sterk, ligte materiaal te ontwikkel wat aan ons vereistes voldoen terwyl dit ook die negatiewe invloed op die omgewing verlig,” sê Lee.
Ford het reeds sowat twee jaar gelede begin saamwerk met Heinz, Coca-Cola, Nike en Proctor & Gamble om ’n plaasvervanger vir plastiek uit plantmateriaal te ontwikkel. Só ’n nuwe materiaal kan gebruik word in die plek van materiale wat uit petroleum vervaardig word.
Heinz se navorsers soek al lankal reeds na innoverende maniere om die skille, stele en saad van die meer as 2 miljoen ton tamaties per jaar wat vir tamatiesoius verwerk word in iets bruikbaars om te skakel.
Mnr. Vidhu Magpal, ’n navorsings- en ontwikkelingsdirekteur van Heinz, sê hy is ingenome met die maatskappy se samewerking met Ford. “Alhoewel die navorsing nog in ’n baie vroeë stadium is en daar tans nog baie meer vrae as antwoorde is, is ons opgewonde oor die moontlikhede wat dit vir albei die maatskappye inhou om ’n vervangingsproduk vir sekere gebruike van plastiek te ontwikkel,” sê Magpal.
Ford gebruik reeds agt bio-materiale in sy voertuie waaronder natuurlike veselversterkte konsole-onderdele, draagklampe van ryshulse, kokosneut-saamgestelse materiale, herwonne kantoen vir matte en sitplekmateriale asook sojaskuim vir sitplekkussings en kopstutte.