
Foskor, die fosfaatreus, het aangekondig dat sy inkomste vir die jaar geëindig in Maart met 163 % tot R10,2 miljard verhoog het. Die semi-staatsinstelling sal ‘n spesiale dividend van R1,3 miljard uitbetaal.
Mnr. Alfred Pitse, Foskor se uitvoerende hoof, sê Foskor se hernude fokus op finansiële en bestuursdissipline het vrugte afgewerp. Verder het sterk kommoditeitspryse ook bygedra tot die goeie resultate. Die pryse het bykans vir die grootste gedeelte van 2008 gegeld.
“Fosforsuurpryse het amper verdubbel aan die begin van die finansiële jaar en het in Augustus op sowat $2 200 per ton gedraai. Dit is ‘n ongekende prys en dis onwaarskynlik dat dit (hierdie hoë pryse) binnekort herhaal sal word.”
Die oorgrote meerderheid van Foskor behoort aan die IDC (voorheen die Nywerheidsontwikkelingskorporasie). Die Indiese kunsmismaatskappye Coromandel Fertiliser Limited en die Sun International-groep besit ook aandele in die maatskappy. Coromandel het in die betrokke geldjaar sy aandeelhouding in Foskor vanaf 2,5 % tot 15 % verhoog. Hiervan het hy toe 1 % aan die Sun International-groep verkoop.
Foskor is tans besig met ‘n breë basis swart ekonomiese bemagtigingstransaksie wat teen die einde van die jaar voltooi behoort te wees.
4 Augustus 2009