Boere en die landbou sal hulle al hoe meer op die grondwethof moet beroep om te verseker dat die individuele en eiendomsregte wat die grondreg beskerm, toegepas word, sê mnr. Louw Steytler, voorsitter van Vrystaat Landbou.
Hy het op 'n studiegroepvergadering in Malmesbury gesê ná verlede jaar se grondberaad in Johannesburg het dit vir hom duidelik geword daar is planne om grondhervorming op ander maniere toe te pas. Hy het sy bedenkinge oor hoeveel welslae met dié metodes behaal kan word en wat die gevolge daarvan sal wees. "Om 'n gemors van grondhervorming te maak, kan die totale Suid-Afrikaanse ekonomie in duie laat stort."
Steytler sê aangesien 'n ondoeltreffende grondhervormingsprogram die land se toekoms kan beëindig, kan daar nie van boere verwag word om alleen vir grondhervorming te betaal nie. Die staat sal ook 'n bydrae moet maak. "Dáároor sal die grondwethof in ons guns beslis."
Zimbabwe, wat so dikwels in gesprekke of besprekings oor grondhervorming in Suid-Afrika opduik, moet volgens Steytler aan die gevolge van die grondhervormingsmetode daar beoordeel word. "Omstandighede in dié land sal nooit weer herstel kan word nie. Laat dit 'n les vir Suid-Afrika wees dat ons nie daardie benadering kies nie."
Vrystaat Landbou beoog om 'n saak teen die Regering in die grondwethof aanhangig te maak oor die miskenning van die regte van Suid-Afrikaanse boere wat op die grens met Lesotho boer.
Adv.George Bizos, wat die saak van kommersiële boere aan die hof gaan voorhou, het vir Steytler gesê as hy een van daardie boere was, sou hy ook hof toe gegaan het. "Soms sal ons maar ons hande diep in ons sakke moet steek om te sorg dat ons grondwetlike regte beskerm word," het Steytler gesê.
Op dieselfde vergadering het mnr. Villiers Loubser van die Landbouvereniging Durbanville gesê daar is 'n wanindruk by die publiek oor boere. " 'n Boer is nie altyd wit nie en besit nie noodwendig grond nie. Ek wil 'n opdrag gee aan die georganiseerde landbou om dié ding reg te stel. Ons praat te min daaroor."
Landbouweekblad, 27 Oktober 2006