
Dit is onwaar dat ’n koei net ’n sekere en beperkte “vrugbaarheidslewe” het en dan geprul moet word − ongeag of sy nog kan kalf, sê dr. Keith Ramsey, adjunk-direkteur vir vee-ontwikkeling by die Departement van Landbou.
Hy het op ’n Nguni-inligtingsdag naby Malmesbury gesê solank ’n koei nog in staat is om een kalf per jaar te lewer, moet sy gehou word. “En hou haar aan solank as wat sy in staat is om dit te doen.”
Ramsey sê die gemiddelde kalfpersentasie vir die nasionale beeskudde is ongeveer 50. By goed aangepaste rasse, soos die Nguni, is dit bykans 90%. “As ’n produsent se kalfpersentasie onder 80 daal, moet hy baie bekommerd wees.”
Ramsey sê sowat 80% van Suid-Afrika se landbougebied is geskik vir grootliks geharde en aangepaste ekstensiewe veerasse. Inheemse Afrikarasse, soos die Nguni, het oor duisende jare as ’t ware deur ’n evolusieproses gegaan om daardie gehardheid te bereik.
Daarom gebeur dit dikwels dat onaangepaste, meestal Europees geteelde beesrasse swakker in Suid-Afrika vaar omdat hulle ’n heel ander fisiologiese samestelling het. Met klimaatverandering is dit iets om in gedagte te hou, het hy gesê.
Inheemse rasse is beter aangepas teen verwagte hoër temperature. Aangepaste diere is ook makliker en goedkoper om mee te boer omdat, byvoorbeeld, heelwat minder aan dipkoste en medisyne bestee moet word.
9 September 2010