
Vir die eerste keer sedert deregulasie in die 1990’s is die sagtevrugtebedryf se fragmentering nou iets van die verlede en is die bedryf ten volle en goed gestruktureerd. Produsente en die bedryf kan nou ten volle “na buite” kyk, pleks daarvan om grootliks teen mekaar op internasionale markte mee te ding.
Só sê mnr. Stefan Conradie, produkbestuurder vir kern- en steenvrugte by Hortgro Services (die voormalige Sagtevrugteprodusentetrust). Hoewel die 2009-produksiejaar ’n besonder moeilike een was weens die resessie en die sterk rand, verwag hy dat die prentjie vanjaar drasties gaan verander.
Die resessie het die vraag na sagte vrugte op Suid-Afrika se tradisionele oorsese markte ’n knou gegee, want vrugte het nie in sulke toestande werklik ’n stem om die verbruiker se aandag te trek nie. Wanneer mense hul werk verloor en hul sente moet tel, kan daar nie sonder meer aanvaar word dat hulle steeds vrugte sal koop bloot omdat dit gesond is nie.
Hoekom gaan dinge in 2010 verander?
Conradie sê verlede jaar is verkope, ondanks die probleme, goed gestimuleer deur ’n grootskaalse markontwikkelingsprojek van Januarie tot Maart, met pruime in besonder wat in Brittanje en Duitsland bevorder is.
Dié loodsprojek was baie suksesvol en vanjaar gaan die projek verder uitgebrei word (dit het reeds in Desember begin) na ook België en Nederland. In hierdie twee lande sal die klem veral op pere val. Mettertyd sal die projek waarskynlik ook na lande buite Europa uitbrei, soos die lande in die Midde-Ooste en Verre Ooste.
Die doel van die projek is om die buitelandse verbruiker van vrugte op te voed oor die uniekheid van puik vrugte, afkomstig van ’n unieke land wat ook baie toerismegeleenthede bied. Nog ’n doelwit is dat Suid-Afrikaanse vrugte in die toekoms genoeg rakspasie sal kry – iets wat mooi aansluit by vanjaar se Wêreldbekersokkertoernooi in die land.
“Ons wil ’n vraag skep, want dit is al hoe beter pryse met verloop van tyd geskep word,” sê Conradie.
Lees meer oor die huidige situasie vir Suid-Afrikaanse sagtevrugte en wat die toekoms inhou in Landbouweekblad se uitgawe van 8 Januarie 2010.
23 Desember 2009