
‘n Reuse-skuur wat 80 000 ton sojaboonmeel kan opberg, is onlangs by die Durbanse hawe bekendgestel, sê Transnet. Die skuur van 20 000 vk meter is by die Port of Durban Agriport se terminaal opgerig.
Die eerste besending sojaboonmeel is reeds op 1 Oktober deur dié terminaal uitgevoer. Die eerste invoerbesending is op 16 Oktober 2010 uit Argentinië ontvang. Luidens ‘n verklaring sê Transnet sojaboonmeel is nou die nommer een-uitvoergewas op die internasionale mark en dit word primêr as proteïen in dierevoeding gebruik.
Groeiende vraag
Suid-Afrika het van 2007 tot 2009 ‘n gemiddeld van 822 000 ton sojaprodukte ingevoer. Dit is drie keer meer as wat plaaslik geproduseer word. Dié skuur is dus oorweeg aangesien vraag in Suid-Afrika, soos in ander lande in Afrika, hoër is as die plaaslike aanbod.
Mnr. Johann Botha, die bestuurder van die sake-eenheid by die Maydon Wharf-terminaal in die hawe, sê: “Ons het die vraag van graanprodukte in Suid-Afrika bekyk en ons studies het bewys dit só hoog dat die beskikbare hulpbronne in die land sukkel om aan die vraag van die plaaslike landbou te voldoen.”
Groot volumes verwag
Transnet verwag om tydens die eerste jaar van sake by dié hawe sowat 500 000 ton se produkte te hanteer, wat tot 700 000 ton kan toeneem, namate die geriewe uitbrei.
Die aanvanklike invoer sal van Brasilië en Argentinië afkomstig wees. Dié twee lande is van die grootste uitvoerders van sojaboon-, pluimvee-, vark- en beesprodukte.
17 November 2010