Statutêre heffings vir rooivleis is in die breë belang van die bedryf terug op die tafel, het mnr. Tim Davidson, voorsitter van die SA Vleisbedryfstrust (Samic),'n vergadering van die Rooivleisbedryfsforum in Pretoria meegedeel.
Op die forumvergadering van 28 Februarie is besluit om die pad van vrywillige heffings vir die bedryf te volg. Die Voerkraalvereniging, die Abattoirvereniging en die Rooivleisprodusente-organisasie het hulself verbind tot 'n maandelikse vrywillige bydrae van R20 000 elk, met dien verstande dat die trust 'n rand-vir-rand-bydrae tot die finansiering van Samic se funksies sal lewer. Samic is die uitvoerende arm van die bedryf. Deur dít lam te lê, kom die bedryf tot 'n stilstand.
Mnr. Gerrie Oberholzer, waarnemende voorsitter van Samic, en dr. Daan Opperman, voorsitter van die forum, het op 20 Maart met die trust onderhandel oor laasgenoemde se rand-vir-rand-bydrae, met die veronderstelling dat vrywillige bydraes tot einde vanjaar 'n kans gegun behoort te word. Geen waarborge vir vrywillige bydraes kon verskaf word nie -- nie tot einde vanjaar nie en ook nie daarna nie.
In die lig hiervan het die trust eenparig besluit om in belang van die bedryf 'n aansoek om statutêre heffings by die Nasionale Landboubemarkingsraad in te dien. Mnr. Davidson het die forum persoonlik van hierdie besluit verwittig. Daarmee word gehoop dat die politieke spel om statutêre heffings hoofsaaklik weens die gefragmenteerde aard van die bedryf, hokgeslaan kan word.
Die aansoek is in die finale stadium van voorbereiding. Adv. Les Kügel, wat die aansoek namens die trust hanteer, sê konsensus oor statutêre heffings binne 'n bedryf vergemaklik die taak van die bemarkingsraad, maar dit is nie 'n wetlike vereiste nie.
4 April 2003