Dit was juis in die sopnat planttyd dat ’n herlewingsboer van die distrik Viljoenskroon opnuut besef het wat die waarde van dekgewasse is. Met trekkers wat vasval in sopnat lande en saad wat oorgeplant moes word weens verspoeling, was 2022-’23 se planttyd in die somersaaigebiede taamlik moeilik.
Voeg daarby die duur kunsmis wat uitgespoel het en die ekstra diesel wat nou met die oorplantery uitgery word, en die boer kyk na ’n aansienlike hap uit sy winsmarge.
Mnr. Cobus van Coller van die plaas Libanon by Viljoenskroon het reeds in 2005 verminderde bewerking saam met bewaringslandboupraktyke begin toepas. Hy het in 2006 ook dekgewasse in sy stelsel ingebring.