Geenbewerking word al 51 jaar lank in Suid-Amerika toegepas. Die bekendstelling en aanvaarding van bewaringslandbou op daardie vasteland was in reaksie op navorsers wat in die 1970’s en 1980’s bevind het Suid-Amerikaanse boere het destyds 10 ton grond weens erosie verloor vir elke ton graan wat hulle geoes het.
Volgens die Brasiliaanse dekgewasspesialis dr. Ademir Calegari was dit te wyte aan daardie boere – en nog baie ander wêreldwyd – se verkeerde oortuiging dat dit die beste bestuurspraktyk was om grond te bewerk en dit kaal te los tussen die produksie van hoofgewasse.
Dit was slegs deur die weldeurdagte denke en baanbrekerspogings van bewaringslandbougesinde boere, soos wyle mnr. Herbert Bartz van Brasilië, en wetenskaplikes en navorsers, soos wyle mnr. Keith Barrows van Dow Chemical Company in Amerika, dat boere begin besef het hoe belangrik dit is om na volhoubare boerderymetodes oor te skakel.