
Dit is veral danksy die wyse waarop hulle vee in die stelsel inbring, het prof. Buz Kloot van die Universiteit van Suid-Carolina in Amerika Donderdag op Ottosdal gesê.
“Ons wil ultrahoëdrukbeweiding toepas soos dit hier in Suid-Afrika gedoen word, en ons gaan ons eie groepe herlewingsboere byeenkry wat dié metodes uittoets,” het Kloot gesê in ’n samevatting van Landbouweekblad se herlewingslandboukongres wat saam met Graan SA en die Ottosdal-geenbewerkingklub aangebied is.
“Dis onmoontlik om te bereken hoeveel ons van julle geleer het. Ek het in die afgelope week hier in Suid-Afrika vier werklik goeie grondprofiele gesien waar ek miskien drie soortgelykes in die afgelope paar jaar elders gesien het.”
Volgens Kloot was hy ook beïndruk daarmee dat die veldtog om herlewingslandboupraktyke in Suid-Afrika te vestig, deur boere self aangevoer word, sonder hulp van die staat.
“In Amerika gee ons graag geld uit om probleme op te los. Die wonderwerk van herlewingslandbou hier in Suid-Afrika is hoe die boere self planne beraam om jul grond te bewaar, met die hulp van enkele belanghebbendes uit die private sektor.”
Nóg ’n Suid-Afrikaanse herlewingslandboupraktyk wat die Amerikaners graag wil naboots, is die wyse waarop insektekundiges toon hoe plaaslike boere die wenakkers kan benut om bestuiwers vir hul dekgewasse te plant. “Dis soos ’n hotel vir die heuningbye en predatore.”
Mnr. Egon Zunckel, bewaringsboer van Zunckel Farms naby Bergville in KwaZulu-Natal, het gesê een van die belangrikste beginsels wat op die kongres beklemtoon is, is dat herlewingslandbou nie oor die toerusting of die praktyke gaan nie, maar oor die kopskuif wat ’n boer maak wanneer hy besluit om saam met die natuur te boer.
“Jy is nie ’n perd omdat jy in ’n stal geslaap het nie. Net so is jy nog nie ’n bewaringsboer as jy ’n geenbewerkingswerktuig oor die land trek nie.”
Sy raad aan ander bewaringsboere is om hulle op die bewaring van water en die opbou van koolstof in die grond toe te spits. “Tot 96% van alle plante bestaan net uit water en koolstof. Dis die basiese beginsel waar ons moet begin, nie by die wetenskap of die tegnologie nie. Doen eers net die basiese dinge reg.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.