Teubes het in 2018 nagenoeg 50% van sy oes vanweë voëlskade verloor. Dit sou die eerste werklike oes wees uit die boord wat in 2016 gevestig is. “Met ’n oesskatting van 25 t/ha het die oes begin Oktober 2018 nog belowend gelyk. Ons het die normale programme vir siekte- en plaagbestryding gevolg. Teen oestyd het die voëls die vroegste en grootste vrugte opgevreet en daarmee saam enige hoop op ’n ordentlike inkomste,” onthou Teubes.
Buiten die voëlskade was daar heelwat blaaspootjies op die nektariens, waarvoor twee maal in die seisoen gespuit is. Onkruidbestryding was ook ’n groot onkoste. Teubes het besef hy sou die voëlskade moes uitskakel of produksiekoste heelwat verminder as hy nektariens ’n lewensvatbare vertakking in sy boerdery wou maak. “Om die voëls te keer, het ons skadunet oor die 2 ha-boord oorweeg. Om egter kapitaalkoste van R500 000 vir ’n proef aan te gaan, was te hoog.”
Saam met sy broer, J.A. Teubes, is besluit om ’n laaste kans met die boord te waag. Hulle wou maniere kry om koste te besnoei, en sou dan kyk hoeveel vrugte teen Oktober aan die bome is. “Indien die voëls teen Oktober 2019 begin pla, sou ons ’n plan probeer beraam. Dit kon voëlverskrikkers, knalkanonne of sonligweerkaatsers wees, of ’n kombinasie van alles.”