
Lees meer oor watter gewasse die beste teen droogte bestand is en hoe natuurlike siektebestryding in grond ’n hupstoot kry met dekgewasse.
Drie jaar se omvattende proewe met 289 kombinasies van verskillende plante per jaar het bewys dit ís moontlik om dekgewasse – met al die voordele wat hulle bring – met sukses in ’n nat én ’n droë jaar deel van ’n droëland-somersaaiery te maak.
Dié proewe, by Ottosdal in die Noordwes, is nou in hul vierde jaar, en word deur mnr. Gerrie Trytsman, dekgewasspesialis van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Plantbeskerming by Roodeplaat, vir dié distrik se geenbewerkingklub behartig.
Die eerste proefjaar se aanplantings is in 2014 gedoen, en die resultate van 2014-’15, 2015-’16 en 2016-’17, wat ’n besonder ongunstige en ’n besonder gunstige produksieseisoen ingesluit het (grafiek 1), het al heelwat lesse opgelewer.
Gerrie sê hy het veral opnuut besef hoeveel prominenter die voordele van ’n deklaag in droër dele soos dié teen vogverliese weens erosie en verdamping is.
“As die plantjies klein is, is transpirasie deur die plante baie min, maar dit is bewys dat verdamping deur kaal grond vir amper 70% van alle vogverliese verantwoordelik kan wees. “As die grond nie bedek is nie, is die temperatuurverskil gemiddeld 10 ºC — genoeg om water van die vloeistof in die verdampfase om te skakel.”
Gerrie toets jaarliks 15 dekgewasse en 4 kontantgewasse (mielies, sojabone, sonneblomme en sorghum), asook ’n winter- en ’n somerdekgewasmengsel. Die winterdekgewasse is swarthawer, gewone hawer, radyse, rog, korog en wieke, en die somerdekgewasse sunhennep, sojabone, sonneblomme, lablab, fluweelbone, babala, sorghum, akkerbone en mielies.
Die uitwerking van verskillende opvolgkombinasies word ook getoets deurdat die aanplantrigting op die toetspersele jaarliks met 90 grade geswaai word. Elke gewas of mengsel word dus elke jaar deur die gewas self en 16 ander gewasse of dekgewasmengsels opgevolg.
Uiteindelik behoort dit getoetste inligting op te lewer oor watter opvolgpatrone die beste produksieresultate lewer, asook die bydraes bepaal wat verskillende dekgewasse tot ’n opvolgkontantoes kan lewer. Die ontleding van die drie jaar se proefdata wys die volgende inligting, sê Gerrie.
Oor reënval en plantproduksie.
Swarthawer, hawer, rog en korog hou daarvan om reën te kry, terwyl die knolgewasse water wat reeds in die grond opgegaar is, beter benut. Op die somerdekgewaslys lewer mielies veel hoër opbrengste as die meeste ander, terwyl akkerbone, fluweelbone en lablab se opbrengste redelik naby daaraan kom.
Lablab is klaarblyklik in ’n gunstige produksiejaar hoog op die prestasieranglys as die verskillende dekgewasse vergelyk word, maar vir ’n droë jaar nie so ’n goeie opsie nie. Vergeleke met die ander gewasse vaar sunhennep ook heel goed in ’n gunstige jaar, terwyl sonneblomme nie so erg deur ’n droë jaar benadeel word nie. Mielies se opbrengs in die droë jaar was egter veel swakker as in die gunstige jaar (grafiek 2).
Oor die dekgewasse se bydrae tot opvolgoeste. Akkerbone en babala was die twee dekgewasse wat mielies as opvolgkontantgewas se opbrengs die meeste verhoog het. Die hoogste gemiddelde mielie-opbrengs (oor die drie jaar) ná een van dié twee dekgewasse was 5,08 ton/ha; die hoogste sojaboon-opbrengs 1,22 ton/ha; die hoogste sonneblom-opbrengs 2,07 ton/ha, en die hoogste sorghum-opbrengs 2,42 ton/ha (grafiek 3).
Oor die verskillende dekgewasse se bydrae tot deurlopende plantmateriaalbedekking van die grondoppervlak. Radyse het die swakste gevaar. Sonneblomme en sojabone het ook ’n baie lae bedekking opgelewer, wat nie veel vir erosiebeheer of vogbewaring kon beteken nie (grafiek 4).
Oor die kroonbedekking (blaredak-bedekking) van die verskillende gewasse met oestyd 2017. Die grondbedekking van al die peulgewasse en dié gewasse wat laag groei, was amper 100% in hierdie opsig (grafiek 5).
Dit het egter 50-60 dae vir hierdie gewasse geduur om hierdie groeidigthede te bereik, juis in daardie dae van die seisoen wat ’n organiese deklaag op die grond in hierdie omgewing belangrik is om vogverlies te bekamp en die grondtemperatuur laag te hou.
Oor die gewasse se N-bydrae.
Die totale stikstof (N)-produksie van die verskillende somergewasse is bepaal, en die hoeveelheid daarvan beraam wat hierdie gewasse vir opvolg-aanplantings beskikbaar kan stel (PAN, oftewel plantbeskikbare stikstof). Dit gebeur wanneer die organiese stikstof in byvoorbeeld dekgewasplantreste, wat nie in ’n vorm is wat deur plante opgeneem kan word nie, deur bakterieë in die grond in ’n anorganiese vorm omgeskakel (gemineraliseer) word.
Dit gebeur sodat die plante van ’n opvolggewas dit kan opneem en weer vir produksie gebruik. Mielies het amper 370 kg N/ha geproduseer, waarvan ’n beraamde 92 kg vir opname deur die volgende gewas in die grond beskikbaar gestel kan word (tabel 1 en tabel 2).
“Dit wys net hoeveel stikstof ons werklik in die grond het wat dikwels uiteindelik uitloog en water kan besoedel,” sê Gerrie. Hy sê radyse is ook daarvoor bekend dat hulle baie stikstof uit die grondprofiel kan opneem en vir heropname deur ander gewasse beskikbaar kan stel.
Oor die dekgewasse se bydrae tot die grond se organiese materiaal-inhoud.
Die veld rondom die proefpersele bevat sowat 3% organiese materiaal, teenoor die proefperseellande se organiese materiaal wat meestal onder 1,5% is, en soms selfs minder as 1%. “Ons behoort ons deur hierdie (die natuurlike veld daar se organiese materiaalpersentasie) as mikpunt te laat lei wanneer ons die organiese materiaal in ons lande probeer opbou,” sê Gerrie.
Oor chemiese stratifikasie. Die ontleding van grondmonsters op verskillende dieptes dui op stratifikasie, wat Gerrie bekommerd maak. Veral ’n toename in aluminium in die dieper grond weens versuring is baie kommerwekkend en kan wortelontwikkeling eensklaps strem, sê hy.
Oor grondgedraagde siektes. Die ou paradigma is dat die insluiting van grasgewasse in ’n dekgewasmengsel wat deur mielies opgevolg moet word, die grondgedraagde siekte-aanslag op die mielies kan verhoog, sê Gerrie. Dieselfde word verkeerdelik geglo oor byvoorbeeld die insluiting van breëblaargewasse in ’n dekgewasmengsel wat byvoorbeeld voor sojabone of sonneblomme geplant word. Dié beskouing is nou met ’n nuwe siening vervang, sê Gerrie: “Groter diversiteit verbeter eerder ekostelsel-funksionering en -dienste (wat plae natuurlik bekamp).”
’n Opsie vir wegspring
Vir somersaaiboere wat dekgewasse by hul bestaande kontantgewasstelsel wil integreer, stel Gerrie op grond van sy ervaring met die Ottosdal-proewe die volgende moontlike beginresep tabel 3 voor.
- Voorts stel hy voor dat die intensiteit van hierdie stelsel mettertyd só met die toevoeging van winterdekgewasse verhoog kan word: Oorweeg dit om ’n wintermengsel te vestig as dit reën nadat die sojaboonoes fisiologies ryp geword het, of nadat dit geoes is.
- Oorweeg dit om ’n wintermengsel op ’n mielieland te saai as dit reën wanneer die mielies fisiologies ryp is en begin afdroog het.