Water- en insetbesparing is eintlik ’n gegewe as dekgewasse by ’n boerderyvertakking ingebring word. Om tot dubbel die gemiddelde makadamia-opbrengs te behaal, is egter ’n ongekende bonus.
Mnr. Francois Vos is beskeie oor sy opbrengste en die sukses wat hy en sy pa, Frank, saam met hul landboukonsultant, mnr. Drikus Prins van Novon, behaal. In hul volwasse boorde by Barberton het hulle al blokke gehad wat 9 t/ha gelewer het. Die afgelope vier produksiejare behaal hulle ’n opbrengs van gemiddeld 5,5 t/ha. Die gemiddelde opbrengs vir makadamias in Suid-Afrika is net meer as 3 t/ha.
Die Vos-familie was eintlik avokado-, piesang- en gemmerboere. Trouens, een van die heel eerste verkoelde vraghouers vir die uitvoer van avokado’s via ’n koueketting is op hul plaas by Kiepersol volgepak, verseël en per vragmotor na die Kaapstadhawe gestuur, vertel Frank.