
BKB het saam met die Sweedse klerevervaardiger H&M ’n vennootskap aangekondig vir die herstel van biodiversiteit en ’n projek vir herlewingsgrondbestuur.
H&M koop tans die meeste wol vir sy produkte van Suid-Afrikaanse RWS-gesertifiseerde plase. BKB is tans die hoofverskaffer van RWS-wol aan die mark.
Luidens ’n gesamentlike verklaring is die projek tweeledig. Dit sal help met die vestiging van bestaande standaarde vir die inname van wol, maar ook die praktyke vir dieresorg uitbou.
Volgens H&M toon ’n assessering dat hulle ’n groot impak op biodiversiteit het deur wol van Suid-Afrika te verkry aangesien die grond wat boere vir weiding gebruik, ’n hoë biodiversiteitswaarde het.
Die projek bevoordeel H&M en boere aangesien die groep se behoefte is om ’n oplossing te vind om sy impak te verminder, terwyl die boer aandag kan gee aan ekostelselgesondheid en veerkragtigheid teen klimaatsverandering.
“Die H&M-groep is daartoe verbind om by te dra tot internasionale mikpunte om ’n gunstige impak op die natuur te behaal, terwyl hy sy eie impak op die natuur en biodiversiteit verminder,” sê me. Caroline Nelson, bestuurder van H&M in Suid-Afrika. “As deel van sy mikpunt om alle materiale meer volhoubaar te verkry teen 2030, erken H&M die behoefte om die oorgang na herlewingspraktyke en die herstel van kritieke ekostelsels te ondersteun as deel van sy eie verkrygingspraktyke.”
Die twee groepe saam is besig om modelle te ontwikkel oor hoe hulle saam met boere kan werk om opbouende grondbestuur te verseker met bewaring, herstel en herlewingspraktyke.
Wyer reikwydte
Dit skep nie net ’n manier om herlewing en herstel op plase toe te pas nie, maar ook om die metodologie te verbeter wat wyer as die projek toegepas kan word en ander boere en biome kan bevoordeel.
“BKB erken die rol van opvoeding en die bemiddeling van projekte op die plaas soos dié projek met die H&M-groep, wat nie net die gaping tussen kennis en praktyke kan oorbrug nie, maar ook dié tussen die twee punte van die verskaffingsketting.”
BKB is dus verbind daartoe en het ’n proses onderneem om herlewingsverandering te help meebring, bystand te lewer en die monitor van die verandering en die herstel van die grond op ’n deursigtige, wetenskaplike bewese en herhaalbare manier met boeregroepe te deel, sê me. Lindsay Humpreys, bestuurder van volhoubaarheid by BKB.
Die projek sal in die Albanie-ruigtebioom in die Oos-Kaap uitgevoer word vanweë die streek se endemiese aard en kwesbaarheid. Luidens die verklaring bied die projek ’n geleentheid om die ruigte te herstel met die hulp van spesialiste wat selde vir die meeste boere beskikbaar sou wees.
Botaniese reservate
Daar word botaniese reservate beplan wat die projek sal ondersteun met die bewaring van en toekomstige navorsing oor die seldsame endemiese spesies.
Volgens H&M is Suid-Afrika ’n belangrike area om hom op toe te spits vanweë die hoë plaaslike bewaringswaarde en verbintenis om grondstowwe te verkry. H&M is afhanklik van vennote soos BKB met plaaslike kennis, invloed en netwerke op plaaslike vlak om die tipe projekte aan die gang te kry. Die groep besit nie self plase nie.
Hy glo ook dat hy dieselfde mikpunte het as die nuwe BKB NXT-strategie (herlewingslandbou) en Textile Exchange (verwantwoordelik vir RWS) se Climate+-strategie wat die oorgang moontlik maak.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.