Toe mnr. Gabe Brown se boek oor sy pad met herlewingslandbou ’n paar jaar gelede verskyn het, het plaaslike boere begeesterd begin meedoen aan die moontlikhede om insetkoste te spaar, ’n beter habitat vir grondorganismes te skep, grondkoolstof te verhoog en vee beter in hul stelsels te benut.
Maar die Kaap is nie Amerika nie, en fynbos en renosterveld is nie die prairie nie. Hier sneeu dit nie sommer op die grond nie. In die winter, as die meeste droëlandgewasse hier moet groei, is die dae koud en kort. In die somer, as die dae lank en warm is, is dit meestal droog.
Dan groei hier kwalik iets, afgesien van lusern as die Suid-Kaap somerrëen gekry het en miskien vaalskraalhans en bitterboelas (Citrullus lanatus) in die Swartland. Die omstandighede maak dit tans nie juis moontlik om lewende wortels baie lank in die grond te hê nie.