
Landbouweekblad, die Riemland-studiegroep en Graan SA het in Maart probeer om ’n paar oplossings in die verband te bied, met ’n herlewingslandboukonferensie waartydens die Amerikaner Jay Fuhrer kom vertel het hoe die probleme in Amerika aangepak word.
Die spil waarom alles draai, vertel Jay die rekordgetal van meer as 600 boere op die konferensie op Reitz, is om grondkoolstofvlakke so hoog as moontlik te kry. Om dit te bewerkstellig, probeer herlewingslandbou om op die suksesse van minimumbewerking en deklaagbestuur te bou, met diverse dekgewasse en hoeëdrukbeweiding wat help om grondkoolstofvlakke te bou en só boerderye meer veerkragtig te maak teen duur chemiese insette en wisselvallige klimaat. koeler ooste
Vleis gee nog ’n oes
In die ooste bly mnr. Izak Dreyer van die plaas Skulpspruit by Ascent buite Vrede in die Vrystaat die vlagdraer van herlewingslandbou. Vanjaar het sy statistieke weer bewys hoe die gebruik van dekgewasse en vee groot voordele vir sy kontantsaaiery ingehou het (LBW, 7 September).
Nie net bou hy die vrugbaarheid van sy grond en besnoei só insette nie, maar sy vee besorg hom ook ’n ekstra bron van inkomste en verskans só sy blootstelling aan riskante gewasproduksie. Nou reeds halfpad deur die eerste vyfjaarsiklus, was sy pogings tot dusver nog net suksesvol.
Sy stelsel lyk só: Jaar 1: Mielies en winterdekgewasse. Jaar 2: Mielies en winterdekgewasse. Jaar 3: Sojabone en winterdekgewasse. Jaar 4: Somer- en winterdekgewasse. Jaar 5: Sojabone en winterdekgewasse.
Tot dusver is die wins wat Izak uit drukbeweiding van winterdekgewasse maak, gelykstaande aan die inkomste van ’n kontantgewas. Met kalwers wat 70 kg per kalf aangesit het, is 170 kg vleis per hektaar geproduseer, met ’n skoon wins van R4 300 per hektaar, al gee Izak toe dat hulle nie noodwendig elke jaar in April die reën sal kry om winterdekgewasse suksesvol op droëland te vestig nie.
Die somerdekgewasmengsel is ook onder ultrahoëdruk bewei met ’n gemiddelde groei per kalf van 800 g per dag, met 67 kg per kalf oor 84 dae. Met 5,8 kalwers per hektaar is daar dus 389 kg vleis per hektaar geproduseer, met ’n inkomste van R8 000 per hektaar. Om dit te ewenaar teen die heersende mieliepryse toe, moes Izak op droëland 10,5 ton per hektaar stroop, ondanks ’n gemiddelde langtermynopbrengs van net onder 6 ton per hektaar. Maar daar was ander voordele ook.
Lande wat konvensioneel bewerk is, was teen die reëntyd, soos die winterdekgewaslande, ook kurkdroog. Daardie lande waarop geenbewerking met dekgewasse gedoen is, kon danksy die beter praktyke en beter vogindringing baie vinnig die 40 mm reën opneem wat net in een bui geval het.
Op die konvensionele lande het dit eenvoudig afgeloop. Izak se statistieke wys ook dat net een jaar se somerdekgewasse sy lande wat tradisioneel ondergemiddelde mielie-opbrengste gelewer het, tot ’n gemiddelde vlak verhoog het. Hy skryf die verbetering toe aan die toevoeging van organiese materiaal in die grond.
Warm weste: Koolstof bly ’n stryd
In die droë weste wys mnr. George Steyn van die plaas Humanskraal by Ottosdal in Noordwes dat dekgewasse en die breër toepassing van herlewingslandbou ook in daardie wêreld se wisselvallige klimaat groot impak kan maak (LBW, 14 Desember).
’n Dekgewasproef is in 2013 die eerste keer op een van sy eertyds konvensionele saailande geplant, vir die eerste keer met geenbewerkingtoerusting. Sy reënval in die 2014-’15-seisoen was soortgelyk aan die neerslag-totaal van die 2017-’18-seisoen, maar die groot verskil was in opbrengste: 7,8 ton/ha in die jongste oes vergeleke met ’n skamele 750 kg/ha in 2014-’15.
Mnr. Gerrie Trytsman, onafhanklike navorser wat die uitgebreide herlewingslandbou-proewe op Ottosdal-plase vir hul plaaslike geenbewerkingklub behartig, meen verspreiding van reënval oor die twee seisoene kon ’n rol gespeel het, maar dit verklaar nie alleenlik dié groot verskil in opbrengs nie.
George skryf sy sukses toe aan die drastiese opbou van organiese materiaal in sy grond deur die plant van dekgewasse en die ultrahoëdrukbeweiding van sowel die winter- en somerdekgewasse met beeste.
Wetenskaplike navorsing elders het ook al bewys dat ten minste 1,1% tot 1,5% organiese koolstof in die wortelsone nodig is vir mikro-organismes om vrylik genoeg voedingstowwe te begin vrystel om ’n behoorlike oes te produseer, asook om waterverbruikdoeltreffendheid bokant 20 kg graan per mm reën te kry.
Proefresultate op Humanskraal wys dat ’n verhoging van 1% tot 3% organiese materiaal in die sanderige leemgrond van Noordwes die waterhouvermoë van die grond kan verdubbel, terwyl die invloed wat die opbou van organiese materiaal op plantbeskikbare vog het, in sanderige grond proporsioneel baie groter as in kleigrond is.
Die opbou van organiese materiaal in George se sanderige gronde bly ’n groot pro- bleem. Die hoogste organiese materiaal-inhoud het op 2,4% gestaan op ’n land waarop lablab (dolicho’s) en babala mekaar opgevolg het. Die afgelope twee jaar het die organiese inhoud van die grond op dié land amper verdubbel, vanaf 1,3% tot die 2,4%.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.