Gewone naam: Skaapvygie (vygiebossie, persvygiebos) Tegniese naam: Delosperma multiflorum Familie: Aizoaceae Die sukkulentebossie is gewoonlik 25-60 cm hoog en effens wyer as wat dit hoog is.
Daar is meer as een stammetjie, wat op die grondoppervlak uit die sagte penwortel spruit. Nuwe takkies kan uit die takke én die bo-ente van die penwortel voorkom. Die blare is sappig, groen tot donkergroen en gewoonlik met reëlmatige afstande in groepies op die jong takkies versprei.
Die bossie blom meestal in die herfs en vroeë winter. ’n Groot aantal blomknoppe en blomme word voortgebring. Die blomme is donkerrooipers en tipies vygieagtig. Die blomtyd duur ongeveer vier weke. Die aanskoulike blomme gaan byna almal gelyk oop.