Ons is deel van die skepping. Soms verbeel mense hulle hulle is meer as bloot net nog ’n skakel in die natuurlike ketting van dinge. As mense het ons ook ’n verantwoordelikheid om dit alles aan die gang te hou. As boere, en veral Suid-Afrikaanse boere, het ons beslis die vermoë en hulpbronne om dit te laat werk.
Ons kan dus ’n suksesvolle skakel in die ketting wees tussen grond, plante en diere. Maar niemand het gesê dit gaan maklik wees nie! Gaan stap in die veld en kyk na die wonders wat elke dag onder ons voete en om ons gebeur.
As ons eerlik met mekaar is, kan ons die agteruitgang in ons veld net oor die afgelope twee dekades sien. Kampe wat eens vol diversiteit was, is nou oortrek van steekgras, taaipol, terpentyngras, slangbos, draaibos, en so meer.