
Van al die gereedskapstukke van herlewingslandbou is somerdekgewasse gewoonlik die een wat heel eerste uitgepluk word. Winterdekgewasse kan egter die impak van herlewingslandbou verhoog – selfs al speel vog nie noodwendig in Suid-Afrika se guns nie.
Die herlewingslandbouboer van Kansas in Amerika mnr. Dale Strickler, ook skrywer van die boek The Drought Resilient Farm en tegniese bestuurder van die voorste dekgewasmaatskappy in Amerika, sê die veld wat hy in Suid-Afrika gesien het, is baie dieselfde as wat hulle in die prêries van Amerika het. Verdere ooreenkomste tussen die twee lande se grootste graanproduserende dele is die hoeveelheid reënval en dat die meeste daarvan in die somer val.
“Ons toestande en natuurlike struikelblokke is dus baie dieselfde. Tog beleef Amerika kouer en natter winters. Dit maak dit vir ons makliker om winterdekgewasse tussen die somergewasse, soos mielies en soja, te plant. Die baie droë winters in Suid-Afrika maak dit beslis moeiliker om só iets te doen. Maar ek dink dit is tog moontlik en ek meen dit gaan ’n groot verskil in Suid-Afrikaanse saaigrond maak.
“In die droë dele van Amerika, wat 400 mm reën of minder ’n jaar kry, het ons dit reggekry om winter- en somerdekgewasse te laat werk. Die interessantheid is dat die boere in daardie gebiede nou meer wins toon uit die beweiding van hul dekgewasse as toe hulle kontantgewasse geplant het. Hul produksiekoste is baie minder en die risiko van ’n misoes ook baie laer.”
Sien ook bit.ly/34Mvzo6 of “Maak jou boerdery droogtebestand” (LBW, 16 April 2020).
Maak jou reën doeltreffend
Die grootste voordeel van dekgewasse is die rol wat dit in grondgesondheid speel, sê Strickler. Veral wanneer jy die heel jaar dekgewasse in jou grond het wat voedingstowwe deur die wortels afskei. Daarom beveel hy dit sterk aan dat boere probeer om vir ’n hele jaar dekgewasse op hul lande te hê en dit dan te laat bewei sodat die dekgewasse hulself betaal.
“Die grootste bekommernis met winterdekgewasse is altyd die vog wat dit gebruik voor die aanplant van jou volgende kontantgewas. Maar as jy in daardie tyd (winter) in elk geval nie veel reën ontvang nie, wat het jy om te verloor?
“As jy die bietjie vog wat daar is, kan gebruik om ’n winterdekgewas te laat groei wat jy kort voor die eerste somerreën inwerk, gaan jy jou grondmikrobes voed en ’n sagte deklaag op jou grond skep wat dan daardie reën soveel beter gaan opvang. Die deklaag gaan ook sorg dat baie minder verdamping plaasvind.
“Jy begin dalk jou somer met minder vog in die grond, maar die deklaag maak jou somerreën soveel doeltreffender. En van daar af is jy ver voor in die wedstryd.”
Van treurige grasse tot rooigrasruigte
Strickler sou in Maart een van die hoofsprekers op Landbouweekblad se drie herlewingslandboukonferensies gewees het. Hy was reeds in die land toe dit vanweë die Covid-19-pandemie afgestel moes word. Hy het steeds boere by Paulpietersburg, Reitz, Ottosdal en Viljoenskroon besoek.
“Die indrukwekkendste bewaringspraktyk wat ek teëgekom het, was waarskynlik mnr. Danie Slabbert van Reitz se ultrahoëdrukbeweidingstelsel. Ek het die metode op ’n paar plekke gesien, maar by Slabbert kon ons genoeg tyd in die veld deurbring en kyk na die verskil wat die stelsel aan sy grassoorte gemaak het.
“Dit is regtig besonders wat by hom gebeur het in net drie seisoene van hierdie behandeling. Wat eens net ’n treurige stand van Eragrostis was, is nou ’n ruigte van rooigras en Paspalum.”
Die voordeel lê ondergronds
Suid-Afrikaanse boere wat dalk al dekgewasse beproef het en teleurgesteld was met die groei bo-op die grond, kan meen dit was ’n vermorsing van geld, sê Strickler. “Maar die grootste voordeel van dekgewasse lê onder die grond. Ja, die deklaag bo-op die grond en die weiding speel ’n rol, maar onder die grond word mikrobes gevoed deur die wortelafskeiding wat sorg dat grond gesonder en ook meer droogtebestand word.”
Strickler sê Mycorrhiza-swamme kan Suid-Afrikaanse boere baie help met die kweek van winterdekgewasse, asook somergewasse wat genoeg bedekking op die lande agterlaat. “Elke jaar wat ons die deklaag verbeter en ons mikrobes langer voed, word ons grond gesonder en meer droogtebestand. Die proses word dus stukkie vir stukkie makliker. Die mikpunt moet wees om heeljaar wortels in die grond te hê. Dit is wanneer jy regtig ’n verskil begin maak.”
Strickler sê daar is ongelooflik baie inligting op die internet en boere moenie huiwer om te gaan kyk na wat ander boere in die res van die wêreld doen nie. “Goeie idees kan deesdae teen die spoed van lig by almal uitkom. En hoe moeiliker die omstandighede, hoe kreatiewer raak boere se idees. Daarom het ek nou baie in Suid-Afrika geleer.”
Tydens sy besoek het hy goeie bewaringsmetodes gesien, maar wat hom die meeste beïndruk het, was die boere self. “Ek het so tuis gevoel oral waar ek gekom het. Die hoogtepunt van my tyd in Suid-Afrika was die mense wat ek ontmoet het. My toergids, mnr. Gerry Weber (van Green Bio), het uitstekend gevaar om my by die regte mense te kry, ondanks die moeilike toestande wat die koronavirus toe al veroorsaak het.
“Al die gesprekke, tot laat in die nag, in sitkamers en om braaivleisvure in die veld, is herinneringe wat my altyd gaan bybly. Ek hoop om gou weer terug te kom.”