Biologiese grondkorse is mikroklein ekostelsels van bakterieë, blougroenbakterieë, ligene en mosse wat op die grondoppervlak groei en belangrike ekostelselfunksies in droë en koue plekke verrig.
In ’n eksperiment wat sy “geassisteerde migrasie” van biologiese grondkorse noem, het dr. Anita Antoninka van die Universiteit van Noord-Arizona gevind dat gekweekte of volgroeide grondkorse na koeler klimate “oorgeplant” kan word.
Antoninka het op die wêreldkonferensie oor grondbiodiversiteit in Dublin, Ierland, gesê die proses kan ’n lewensvatbare manier wees om biologiese grondkorse en hul funksies in afgetakelde landskappe te herstel in ’n era van klimaatsverandering.