Daar is geen verskil in opbrengs tussen ’n plaas wat suiwer bewaringspraktyke beoefen en ’n plaas waarvan die grond elke ses jaar met ’n skeurploeg bewerk word nie.
Dít is een van die bevindings wat spruit uit langtermynwisselbouproewe waar bewaringslandboupraktyke op die plaas Waterboerskraal van mnr. Gideon Melck buite Hopefield toegepas word.
Die uitwerking van bewaringslandbou op gewasse soos koring, kanola en peulgewasse op sandgrond is onlangs op ’n boeredag op dié plaas onder die loep gebring. Die wisselbouproewe, wat in 2018 begin het, nader hul sesde jaar en binnekort ook die einde van die eerste siklus.