
Die konferensies word in vennootskap met die Riemland-studiegroep by Reitz en die No-till-klub by Ottosdal aangebied. Clark is een van die internasionale boere wat lede van die studiegroepe die graagste daar wou hê. “Rick is ’n boer soos ons en hy doen dit ook self, soos ons,” sê mnr. Danie Slabbert, voorsitter van die Riemland-studiegroep.
“Dit is regtig iemand by wie ons iets kan leer.” Clark, ’n vyfdegeslag-boer van die Warren-distrik in Indiana, boer met mielies, sojabone, koring en lusern op 2 833 ha, en lewer voerbestanddele aan die suiwelreus Danone Noord-Amerika.
Clark is veral bekend in Amerika om sy sukses met die besnoeiing van insetkoste; ’n gevoelige onderwerp in Suid-Afrika ná die astronomiese styging in plaasinsette in 2022.
GROEN BOER
Clark behaal sy sukses deur streng gewasrotasies toe te pas en deur multispesie-dekgewasse oordeelkundig en strategies aan te wend. Sojabone en mielies word byvoorbeeld in groen, groeiende dekgewasse geplant, ’n benadering wat Clark as ’n “groen boer” beskryf.
Intussen het sy opbrengste net bly styg. Vir Clark is grondgesondheid ’n eenvoudige saak: “Om insette te verminder en om opbrengste te verhoog,” het hy vroeër vanjaar in die tydskrif Green America gesê.
“Dit maak ons baie winsgewend. Ons gebruik geen saadbehandelings, insekdoder of swamdoder nie. Ons het kunsmis ook al byna uitfaseer. Ons gebruik nog net ’n bietjie stikstof by die gewasse.”
EERBEWYSE
Medeboere sien Clark se sukses al hoe meer raak, en hy praat deesdae oral in Amerika. In 2017 is hy as Danone se Volhoubare Boer van die Jaar vereer, terwyl die landboukoöperasie Land O’ Lakes hom vir uitstaande volhoubaarheid vereer het.
Hy was ook ’n streekwenner van die Amerikaanse sojaboonvereniging se eerbewyse vir bewaringsnalatenskap. Clark se plaas is een van 15 in Amerika waar grondkundiges navorsing doen as deel van Danone Noord Amerika se grondgesondheidsnavorsingsprojek. Dit het ten doel om lig te werp op die unieke impak van herlewingslandboupraktyke op grondproduktiwiteit.
KOOP ’N KAARTJIE
’n Kaartjie vir die Herlewingslandboukonferensies sluit ook GRATIS toegang van 12 maande tot Landbou.com ter waarde van R1 800 in.
REITZ
13 en 14 Maart 2023
Reitz-skouterreinR57/Sarel Cilliersstraat
Koste: R1 850 per persoon. Bespreek vroeg en betaal R1 600.
Klik HIER om jou kaartjie te koop.
OTTOSDAL
16 Maart 2023
Ottosdal-skouterrein
Swartstraat
Koste: R750 per persoon.
Klik HIER om jou kaartjie te koop.
Rig navrae aan events@landbou.com.
Landbouweekblad se drie konferensies – Reitz, Ottosdal en Somerset-Wes – word aangebied in samewerking met die Riemland Studiegroep, die Ottosdal-geenbewerkingsklub, Soil Health Support Centre, ASSET Research en die Mielietrust.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.