Renosterveld huisves die rykste habitat vir bolplante op aarde, maar dit is ook een van Suid-Afrika se mees bedreigde ekostelsels. In 2012 het renosterveld in die Overberg egter ’n helpende hand gekry toe dr. Odette Curtis-Scott die Overberg-renosterveldbewaringstrust gestig het.
Die trust se werk is egter ’n wedloop teen tyd, sê mnr. Grant Forbes, bewaringsbestuurder by die trust. “Ons werk teen die horlosie. As ons nie aanhou werk nie, kan renosterveld vir altyd verlore wees.”
Renosterveld het nogal deurgeloop onder boerdery, veral ploegaksies, sodat 95% van die oorspronklike laagland-renosterveld sedertdien uitgeploeg is om lande te maak. Die oorblywende 5% bestaan uit tientalle klein stukkies veld op private grond, meestal in valleie of op heuwels wat te steil of rotsagtig is om te ploeg.