Die sogenoemde EL-I-tegnologie (early-life initiation) om groter hoeveelhede stikstof vas te lê, kan ’n groot impak op die landbousektor hê. Só sê Gerhard Vermaak, besturende direkteur van Custom Chemistry, ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat die afgelope dekade in die praktiese toepassing van mikro-organismes spesialiseer.
Sy navorsingsresultate bied ’n oplossing om opbrengste op ’n ongekende skaal te laat styg. Stikstofkunsmis is tans die primêre, bydraende faktor tot hoë opbrengste.
In die 1950’s is ’n groep bakterieë, diazotrofe, ontdek wat atmosferiese stikstof in plantbeskikbare stikstof kan omskakel. Weens die beduidende energie-insette wat vir stikstofbinding nodig is, het dit egter nooit kommersieel lewensvatbaar geword nie.