
Dít was die boodskap van dr. Johan Strauss, wetenskaplike oor volhoubare gewasstelsels by die Wes-Kaapse departement van landbou, tydens Landbouweekblad se herlewingslandboukonferensie in die Wes-Kaap.
Bykans 220 boere en belangstellendes het die dag op Somerset-Wes bygewoon.
Volgens Strauss het die area onder koring die afgelope drie dekades in die Wes-Kaap afgeneem, maar die opbrengste en gemiddelde oeste het toegeneem. Hoewel verbeterde kultivars ’n rol gespeel het, kan dit ook aan beter boerderystelsels toegeskryf word. Twee dekades se data het getoon daar is ’n ton verskil in opbrengs en 2% in proteïen tussen die beste en swakste stelsels.
“Dit kos tyd vir alles om lekker saam te werk, maar met verloop van tyd tyd raak die stelsel stabiel en kan jy in goeie én slegte reënjare steeds produseer,” sê Strauss.
Besparing
Hoe meer stabiel die stelsel raak, hoe meer dienste kan jy van die ekostelsel verwag.
“Die mate van besparings hang van jou stelsel af. Die rede hoekom ons nog nie al die voordele sien wat ons kan nie, is omdat baie produsente nog nie hul stelsels vertrou nie. Ons moes ook op ‘n stadium ‘n wilsbesluit neem oor hoeveel stikstof ons gaan toedien en in van ons stelsels kon ons dit al heelwat afbestuur. Jy moet egter bereid wees om jou stelsel te vertrou, maar dit kom met tyd.”
Hulle spuit ook al die afgelope vier jaar geen insekdoder op die plaas nie.
Volgens hom was dit byvoorbeeld nooit hul doel om biologiese lewe in die grond te verbeter toe hulle destyds met herlewingslandbou-proewe op Langgewens naby Moorreesburg begin het nie.
“Aanvanklik het ons net insekte gemonitor en gespuit as daar ’n probleem is, maar uiteindelik was dit glad nie meer nodig nie. ’n Paar jaar gelede het ons ook vir die eerste keer weer insekvretende voëls en bakoorjakkalse (ook insekvreters) op die plaas gesien,” het hy gesê met verwysing na ekostelseldienste wat hulle kon ontsluit.
’n Brug met drie pilare
Strauss vergelyk herlewingslandbou met ’n brug op drie pilare.
“Die pilare is minimum grondversteuring, diversiteit deur wisselbou en grondbedekking. Sonder een van dié pilare gaan die brug wankel. Die ander dinge, soos om diere in te bring of meer biologiese benaderings te volg, is ekstra dinge wat die dié brug versterk en bou.”
Hy het wel benadruk dat peulplante belangrik is in goeie wisselboustelsels.
“Maak nie saak of dit weiding, lupiene of ertjies is nie, maar peulgewasse bring iets na die pakkie toe wat help om die koste af te bring.”
Tydens proewe die afgelope twintig jaar het hulle gevind dat ’n weidingstelsel (met medics) altyd ’n stelsel met slegs kontantgewasse klop.
“Dis slegs in hoër reënvaljare wat kontantgewasse kan meeding met net een van die weidingstelsels. Selfs ’n stelsel met soutbos het ’n 62% hoër bruto marge opgelewer as monokultuur-koring.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.