Mnr. Pablo Etcheberry en sy familie boer op Santa Marta, ’n beesplaas naby die klein dorpie Pellegrine in die Buenos Aires-provinsie van Argentinië. Die familie huur die grond en beoefen ultrahoëdrukbeweiding (UHDB) met 500 vroulike diere op 300 ha.
Hulle plant ook kontantgewasse, soos sojabone en mielies. Die diere wei op dekgewasse en oesreste. Hy het gou agtergekom dat die winssom beter klop as hy dié intensiewe beweidingsmetode volg, pleks van selektiewe beweiding.
Dit was selfs winsgewender as om die plaas met kontantgewasse alleen te beplant. Naas die beeste is daar ook duisend hoenders wat gereeld geskuif word op die weiding, ’n paar varke en skape, asook ’n byeboerdery wat ’n goeie inkomste inbring.