Op die reeks konferensies op Reitz, Ottosdal en Stellenbosch in Maart verlede jaar het die resultate van ’n vergelykende studie van Asset Research getoon herlewingslandbou bied wesenlike besparings in vergelyking met ander produksiestelsels.
Aanvanklik kan dit meer uitgawes verg, maar oor 30 jaar styg die netto wins betekenisvol, terwyl dit daal in die twee ander stelsels. Die stelsels behels wisselbou met mielies, sonneblomme en sojabone saam met ’n veekomponent. Sien ook bit.ly/3UK7HKg vir die volledige studie.
Een van die sprekers, die Brasiliaanse dekgewasspesialis dr. Ademir Calegari, het gesê ploeg is die meester van rampspoed. “Dit laat die grond kaal en onbeskermd, dit vernietig grondstruktuur en grondlewe, en dit lei tot erosie en ander vorme van grondagteruitgang. Dit veroorsaak ook verliese aan grondkoolstof en grondvog, lei tot omgewingsbesoedeling, en kan tot 66% by die brandstofkoste van boerderybedrywighede voeg.”