
Die ondernemende sitrusmaatskappy ClemenGold trek dié feestyd vir sy sitrus ’n nuwe baadjie aan – die keer as ’n pragtig verpakte ClemenGold-deurdrenkte jenewer.
Die jenewer word deur mee. Lucy Beard en Leigh Lisk van die Hope on Hopkins-stokery in Kaapstad gestook. Mnr. Abraham van Rooyen, hoofuitvoerende beampte van die ANB-beleggingsgroep (ClemenGold se houermaatskappy), het sowat agt maande gelede met die idee vir ’n boetiek-jenewer met ClemenGold-geure vorendag gekom.
Dit is onder meer aanlyn by Yuppiechef (R359 vir 500 ml) beskikbaar. Van Rooyen het in Letsitele grootgeword, en altyd gesê boerdery of groot besighede is nie vir hom bedoel nie. Vandag besit die maatskappy egter 16 plase in vier gebiede, met die moontlikheid om ook internasionaal uit te brei.
“Negatiewe gedagtes kan dus postiewe gevolge hê,” het hy op die bekendstelling van die jenewer in Kaapstad gesê. “Die sitrusbedryf is nou die grootste uitvoerder van vrugte. Dis ’n goeie inkomste-genereerder en dit skep ’n massiewe hoeveelheid werk. Ek het in 1989 begin met sewe ouens wat vir my werk en het nou net minder as 3 000 werknemers. Binne drie jaar behoort ons sowat 5 000 mense in diens te hê.”
Die maatskappy word aangevuur deur vernuwing, en een van hul opwindende nuwe kultivars is ’n pitlose suurlemoen. Van Rooyen sê hulle het in 1995 begin onderhandel om die regte vir die Nadorcott-kultivar, wat aan die koning van Marokko behoort, te verkry.
Nadorcott word onder die ClemenGold-handelsmerk bemark. “Ná vyf jaar, sestien vlugte en baie uitgawes het ons in 1999 die regte vir die Suidelike Halfrond onderteken. Ons bestuur tans die plantregte en die vloei van vrugte in bykans 62 lande. Dit het my wildste drome oortref.”
Baie mense het gelag vir Van Rooyen se voorstel om ’n handelsmerk aan die Nadorcott-kultivar te koppel. “Hulle het gedink ek is lekker mal om ’n nartjie te wil brand, maar nou is dit ons internasionale vlagskip-produk. Dit was ’n goeie reis met goeie winste, wat lekker was om te deel met ons vennote, aandeelhouers en gemeenskappe.”