Volgens 'n verklaring deur Agra in Windhoek is die hele aanbod van pelse op die veiling van 4 April verkoop teen gemiddeld 219 Deense Krone (sowat R235) teenoor die gemiddelde prys van 154 Deense Krone (sowat R165) wat in September verlede jaar daar behaal is.
Die jongste prys is aansienlik hoër as die vorige rekordprys van 218 Namibiese dollar (N$1 = R1) wat in Desember 2001 behaal is.
In die dae voor die veiling was dit al duidelik dat daar 'n groot belangstelling in die aanbod van Swakara is en dit het gelei tot lewendige mededinging onder die 28 kopers.
Kopers wat 'n paar veilings lank nie teenwoordig was nie, het teruggekeer en heelwat nuwe kopers het ook opgedaag.
Die grootste kopers was van Engeland, Spanje, Italië en Hongkong. Die hoogste prys vir 'n pakkie pelse was die 410 Deense Krone (sowat 438 Namibiese dollar) wat betaal is vir twee uitgesoekte pakkies korthaar ligte watersypelse.
Die veiling is deur Kopenhagen Fur aangebied en Agra-koöperatief het die pelse namens Namibië se Karakoelboere aangebied. Die volgende veiling word in September gehou.
22 April 2005