
Skaars van die teerpad af op ’n skurwerige grondpad in die Kaapse Overberg voel dit vir my mos asof hierdie nuwe Hyundai Creta sportnutsvoertuig (SNV) spesifiek vir grondpaaie ontwerp en gebou is, immers die ware Jakob hierdie keer!
Ek meen, daar is ’n hele paar klein- tot mediumgrootte kamma-stoftrappers in die mark waar ’n gewone luikrug se ryhoogte aangepas is en dit met dofswart buffers en wiel/kantbeskermingstroke, asook dakrelings, versier is om kopers te oortuig dat dít nou net die heel beste boendoe-ryding ooit is!
Hyundai se Creta word in Indië gebou en is ontwerp vir markte in Asië, waar padtoestande glo veel te wense oorlaat. Gelukkig vir Suid-Afrikaners is die einste Creta nou plaaslik beskikbaar om Hyundai se sportnuts-driekuns te voltooi.
Hoewel die Creta-afmetings waarskynlik naby is aan dié van die destydse eerste geslag Tucson, staan hy nou derde in die ry met die ouboet Santa Fe op die boonste sport. Die Creta weerspieël nou wel die Hyundai-DNA duidelik, maar die ontwerp is minder woelig as dié van sy stalgenote.
Ruim en netjies
Dit is ’n aantreklike en netjiese voertuig met ’n stewige voorkoms. Die sierroorster se (slegs) drie horisontale chroomstroke, die prominente hoof- en misligte en omvou-agterligte is saambindende ontwerpelemente. Allooiwielvellings van 16 duim, invou-truspieëls buite en ’n sentrale remlig bokant die agterruit rond die prentjie af. En met ’n indrukwekkende grondvryhoogte van 190 mm stof hy selfs die Tucson uit.
Die kajuit is netjies afgewerk. Die paneelbord is van ’n harde materiaal gemaak, maar verder word leer op die veelfunksiestuurwiel, rathefboom en die tweekleur-sitplekke gebruik. Die voorste sitplekke is gerieflik en bied voldoende sywaartse steun.
Sonder om in die binne-afmetings verstrengel te raak… as ’n sesvoeter gemaklik agter die Creta se stuurwiel sit, en ’n tweede sesvoeter sit direk agter hom, is daar nog ’n goeie 50 mm ruimte voor laasgenoemde se knieë beskikbaar. Die ruim bagasiebak kan maklik vergroot word deur albei (of een van twee) agterste sitplekrugleunings plat te vou.
Twee inlynviersilinder-enjins word ingespan: Die 1.6 MPI (petrol) lewer drywing van 90 kW teen 6 300 r/min en 150 Nm wringkrag teen 4 850 r/min terwyl die 1.6 CRDI (turbo-diesel) met drywing van 94 kW teen 4 000 r/min spog en oor 260 Nm se wringkrag teen 2 750 r/min beskik. ’n Sesgang-handratkas of ’n sesgang outomatiese ratkas dra die enjinkrag na die voorwiele oor. Die diesel-weergawe is slegs met die outomatiese ratkas beskikbaar.
Meer as 20% van die staal wat vir die bakwerk gebruik word, is gevorderde ultrahoë sterkte staal en ’n hele paar versterkingstrukture verstewig die onderstel/bakwerk-eenheid. Die veerstelsel gebruik McPherson-strutte voor wat stewig aan ’n nuwe l-vorminge subraam gemonteer is. Die agterveerstelsel is by die Tucson afgekyk, maar die skokbrekers is nou bykans vertikaal geposisioneer vir ’n groter bewegingsverhouding èn ’n mate van onderstuur vir beter vastrap deur draaie.
Sterk en stofdig
Die Creta bied ’n gerieflike rit op teer- sowel as op grondpaaie. Die kraglewering (90kw/96 kw) pas die voertuig soos ’n handskoen en handratkas skakel glad en positief. Die outomatiese ratskakeling was deurgaans ewe seepglad. Met ’n beperkte mate van bakrol volg die kar die gekose lyn slaafs na en die veerstelsel boesem veral op die grondpaaie vertroue in.
Natuurlik hou ek ook van die Creta se remsluitweerstelsel (ABS), die elektroniese remkragverspreiding (EBD), die ses lugsakke, sy info/navigasieskerm, die parkeersensors en tru-kamera, maar dit is daardie gevoel van vertroue en geborgenheid, die ritgerief en natuurlik veral die grondpadhantering (èn stofdigtheid) wat my bybly. As ma ’n wenslysie het vir ’n nuwe dorpsryding om alles van kinders, koshuistasse, kruideniersware tot kuikenkos te karwei, behoort die Creta bo-aan te pryk!
Hyundai spog met een van die omvattendste voertuigwaarborge in die mark: Die algemene vervaardigerswaarborg geld vir vyf jaar of 150 000 km met ’n bykomende twee jaar of 50 000 km op die aandryfstelsel. Dan is daar ’n vyf jaar- of 150 000 km-padbystandsdiens asook ’n diensplan vir vyf jaar of 90 000 km. Die versieningsintervalle is 15 000 km.
Die handrat- en outomatiese petrolmodelle kos onderskeidelik R319 900 en R339 900 terwyl die outomatiese dieselmodel jou R369 900 uit die sak sal jaag.