
Dit gaan voor die wind met die inmaakbedryf in Suid-Afrika. Dit is danksy nuwe kultivars wat meer vrugte produseer. Swak oeste in Chili, Argentinië, Griekeland en Spanje en dalende produksie Doer Onder dra natuurlik ook by tot die oplewing in die inmaakbedryf wat betreklik onlangs nog klippe gekou het.
“Die swakker rand het ook ’n beduidende invloed op ons welvaart. Suid-Afrika, wat sowat 90% van sy inmaakvrugte uitvoer, kon dit dus in ’n relatief ondervoorsiene mark lewer,” sê mnr. Anthony Dicey, voorsitter van die Inmaakvrugte-produsentevereniging(IPV).
Inmaakvrugteboere sal boonop vanjaar meer in hul boerderye kan terugploeg, danksy ’n verwagte agterskot van tot 10%. Die hoër agterskot kan byvoorbeeld wees omdat die inmaakmaatskappy die wisselkoers aanvanklik verkeerd voorspel het. Die beter prys vergoed egter nie vir swakker produksie nie, en hael en ontydige reën het ook die plaaslike oes geknou.
“Beter kultivars wat egter tot hoër produksie in staat is, het gehelp. Wat perskes betref, was aanplantings die afgelope paar jaar egter effens laer as wat nodig is om die bedryf se totale produksie in stand te hou.”
Sommige lande, soos dié in die Verre-Ooste (veral China), vaar finansieel beter as die tradisionele Europese markte. Volgens mnr. Wiehahn Victor, hoofbestuurder van die IPV, koop China sowat 80% van hul taaipitperskes by Suid-Afrika. “Ons kan bykans nie genoeg produseer om in hul vraag te voorsien nie. Suid-Afrikaanse taaipitperskes is verreweg die gewildste op die Chinese mark, danksy die puik gehalte.”
Verbruikers – veral die Chinese – wil deesdae groter perskes hê en inmaakfabrieke gee gehoor daaraan. Anthony sê dit is omdat die Chinese perskes as geskenke gee. “Dit moet dus mooi vertoon. Hulle wil groot, diepgeel perskes sonder letsels hê.”
Pere en verpulpte vrugte vaar byna net so goed as perskes. Die tradisionele Bon Chretien-pere is steeds gewild, maar die laaste paar jaar al verkies mense vroeë Bon Chretien-pere, wat ook goed op die varsmark vaar.
Boere moet natuurlik die markverskuiwings in gedagte hou en hul boerderymetodes en kultivars aanpas om vir die mark te gee wat hy wil hê. “Produksiemetodes, soos snoei, uitdun, besproeiing en bemesting, sal aangepas moet word. Boere moet ook kultivars plant wat groter vrugte produseer. Gelukkig word daar die laaste paar jaar meer perskes aangeplant wat wél hieraan voldoen. Die vroeë Bon Chretiens word meesal vir die varsmark aangeplant, waar die tyd van lewering belangriker is vir bemarking,” sê Anthony.
Victor voeg by produksiefaktore moet in ag geneem word by alle uitbreidings. “Vra jouself af of jou grond, omgewing en watersituasie wél uitbreiding kan hanteer. Vandag is arbeid veral ’n belangrike faktor, en boere beweeg weg van arbeidsintensiewe tipe vrugte en kultivars. Te midde van voortdurend fluktuerende toestande (hetsy wisselkoers, natuur en klimaat, pryse, volume en arbeid) moet inmaakvrugteprodusente egter nooit hul aptyt vir risiko verloor nie, anders gaan hulle probleme ondervind.”
“Moet nooit boorde uitbrei en aanplant sonder ’n vaste koper in die sak nie. Moenie aanvaar ‘iemand’ sal jou vrugte koop nie; maak seker van leweringskontrakte.”