Groot hoeveelhede katoensaad wat hul weg via Beitbrug na Suid-Afrika vind, is deur Afri Compliance onder verdenking geplaas.
Tydens 'n onlangse roetine ondersoek het dit aan die lig gekom dat groot hoeveelhede katoensaad via Beitbrug vanaf Zimbabwe na Suid Afrika ingevoer word waarvan die gehalte van 'n bevraagtekenbare standaard is.
Mnr. Joe Hanekom, besturende direkteur van Afri Compliance, sê na bewering word hierdie invoere nie behoorlik gekontroleer en getoets ingevolge die toepaslike vito-sanitêre vereistes nie. Talle invoer-besendings is glo is met Gossypol besmet en dat vrektes onder diere kon reeds plaasgevind het.
"Die situasie hou 'n ernstige bedreiging in vir die plaaslike landboubedryf in en indien aandag nie daaraan verleen word nie kan dié invoere groot verliese inhou vir niksvermoedende eindverbruikers wat hierdie produkte vir hulle diere voer," het mnr. Joe Hanekom gesê.
Afri Compliance monitor die invoer van landboukommoditeite in terme van die legitimiteit van invoertransaksies in belang van voedselveiligheid en stabiliteit in die breë landboubedryf in Suidelike-Afrika.
Gossypol tas hoofsaaklik die hart, lewer en niere aan van varke en herkouers, soos beeste en skape, en daar is geen doeltreffende behandeling vir diere wat met gossypol vergiftig is nie.
- Kontak mnr. Herman van Zyl van Afri Compliance by tel.nr. 012 347 0320 vir tegniese hulp.
17 April