Boere kan vir die volgende drie tot vier jaar uitsien na invoerpariteitspryse vir baie produkte weens tekorte wat besig is om te ontstaan.
Prof. Johan Willemse, dosent in landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, het by Agri Mpumalanga se kongres boere gewaarsku om hulle nie blind te staar teen bestaande probleme nie en eerder te beplan vir veranderinge wat kom. "Moenie vashaak by die drama, detail en probleme nie. Aanvaar die werklikhede en die veranderinge wat kom en beplan hoe jy steeds positief vorentoe sal kan meeding."
Hy sê een van die werklikhede is dat die Regering niks vir boere gaan doen nie. "Vergeet van die Regering. Die Regering is besig met politieke speletjies en boere is die slaansak."
Nog 'n werklikheid is dat die land besig is om uit sy nate te groei. Daar gaan tekorte op baie terreine ontstaan en boere moet daarvoor beplan. "Daar gaan tekorte aan krag, sement en vaardighede byvoorbeeld wees. Aanvaar dit en beplan daarvolgens. Teen 2015 gaan daar oorloë oor water wees en binne Suid-Afrika, as land met waterskaarste, gaan daar veral tekorte wees. Beplan nou al daarvoor."
Willemse sê bio-energie is ook 'n feit wat landbou en die wêreld gaan verander. Die wêreld se graanvoorraad is die laagste nog en in die VSA gaan daar hierdie jaar 80 miljoen ton mielies vir bio-etanol gebruik word. "Graanpryse sal hoog bly en weens die hoë voerpryse sal dit ook vleispryse opdruk."
Landbouweekblad, 15 Junie 2007