
Agri Wes-Kaap het verlede week ’n droom bewaarheid deur die stigting van sy nuwe Jongboerkomitee, sê mnr. Kosie Loubser, voorsitter van Agri Wes-Kaap. Hy is opgewonde dat jongmense bereid is om betrokke te raak by die landbou en die “passie en kundigheid het om die landbou in ’n nuwe fase van ontwikkeling in te lei”.
Loubser het jong boere aangemoedig om die Regering en ander besluitnemers in te lig oor die uitdagings en knelpunte in die landbou. Hy het gesê hulle moet tog “in hul spoor trap” omdat hulle nie die bagasie van die ouer geslag dra nie en groter bydraes kan lewer om die landboubedryf uit die spervuur te help kry.
Die komitee se eerste voorsitter, mnr. Roelof Joubert, sê jong boere moet terugploeg in die bedryf. Die komitee se streeksverteenwoordigers is:
• Eric Louw - Weskus
• Kosie Loubser jr.– Kaapse Metropool
• Jean du Preez – Kaapse Wynland
• Christopher Cloete – Overberg
• Hannes Toua – Eden
• Jacques du Plessis – Sentraal-Karoo
Op die meegaande foto verskyn, agter van links na regs, mnre. Jean du Preez, Kosie Loubser Jnr., Kosie Loubser Snr., voorsitter van Agri Wes-Kaap, Roelof Joubert, voorsitter van die nuwe Jongboerkomitee, Neil Hamman, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap. Voor van links na regs verskyn mnre. Jaques du Plessis, Christopher Cloete, ondervoorsitter van die komitee en Hannes Toua.
28 September 2009