
Senwes se jaarlikse Toekomsfokusdag het vanjaar 350 jong boere van die Vrystaat en Noordwes gelok. Dit is die meeste nóg en mnre. Roelf Jacobs, voorsitter van Vrystaat Landbou se Jongboervereniging, en Francois Coetzee, voorsitter van Agri NW se Jongboervereniging, was in hul noppies met dié opkoms.
Die byeenkoms het op 17 September op Nampopark in Bothaville plaasgevind. Mnr. Dawie Roodt, ekonoom, het met die jong boere gepraat oor die huidige ekonomiese resessie en die makro-ekonomiese perspektief wat ’n uitwerking op Suid-Afrika het. Hy sê die plaaslike ekonomie groei steeds, maar teen ’n stadiger pas. Hy verwag ook dat rentekoerse weer gaan styg.
Die neigings wat kommoditeitspryse volg, is deur dr. Ferdi Meyer van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid bespreek terwyl dr. Kobus Laubscher van Graan SA die jong boere moed ingepraat het vir die toekoms. Mnr. Michael Jackson, motiveringspreker, het die jong borere tot innoverende besigheidsdenke in ’n dinamiese wêreldtydvak aangespoor.
Die Toekomsfokusdag is met die samewerking van OFM Stereo, die Vrystaatse radiostasie, en Graan SA aangebied ten behoewe van Vrystaat Landbou en Agri NW.
Op die meegaande foto verskyn (van links) mnre. Roelf Jacobs, voorsitter van Vrystaat Landbou Jongboervereniging, LPJ Fourie, wenner van die Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie, mnr. Richard Hobson, Agri NW se Jongboer van die Jaar en Francois Coetzee, voorsitter van Agri NW Jongboervereniging.
28 September 2009