
Kakamas Abattoir in die Noord-Kaap beskik nou oor ’n aanleg vir die opwekking van sonkrag en is die een van die eerstes in sy bedryf om sy verkoelingsgeriewe met sonkrag aan te dryf.
SolarTrends het die SolarWorld-sonkragstelsel geïnstalleer. Dit verskaf sowat 95 kWh en voer direk in die elektrisiteitsnetwerk in, wat ’n besparing van sowat 60% per jaar vir die slagplaas beteken oor die stelsel se 25- tot 35-jaar leeftyd.
“Kakamas Abattoir word deur die meeste boere in die omgewing gebruik en deurlopende elektrisiteit is nodig vir die slagwerk sowel as verkoeling van die vleis,” sê mnr. Hendri dee Beer, SolarTrends se projekdirekteur.
“Die Kakamas-omgewing het oorvloedige sonlig – 365 dae van die jaar. Weens die afgeleë en woestynagtige aard van die plek is dit ’n groeipunt vir die sonkragbedryf,” sê mnr. Gregor Küpper, besturende direkteur van SolarWorld Africa. “Ons was verheug om saam met SolarTrends aan hierdie innoverende projek te werk. Dit stel ’n nuwe standaard vir volhoubare sonkrag in veeboere se verkoelingsketting.”