
Tanya Vorster en Fanie Ferreira het eers gedink hul Buff-kalkoenmannetjie wil seker maar net sy wyfie vir 'n rukkie blaaskans gee toe hy hom op die nes eiers in die paartjie se hok op hul kleinhoewe by Kwaggafontein buite Bloemfontein tuismaak.
Maar kort voor lank was dit duidelik dat Koeloe eerder 'n voltydse broeitermyn in gedagte het. Enduit. Elke keer as sy nog 'n eier lê, rol hy dit sonder seremonie by die res van die versameling onder sy bors in. En bewaar die een wat dit andersins naby die nes waag.
Teen die einde van sy tweede week van broei was daar ses eiers in die nes, en almal wag nou in spanning om te sien of daar teen die einde van die gemiddelde broeitermyn van 28 dae kuikens gaan wees.
Dit lyk nie juis of haar wederhelf se inmengery die wyfie pla nie; sy het immers self al twee keer vir hulle 'n kroos uitgebroei. Terwyl die bebaarde Koeloe opgepof in die hoek van hul hok die harde broeiwerk doen, gaan sy klaarblyklik heel tevrede haar normale gang.
Fanie sê hy het ver en wyd rondgebel en op die internet gesoek, maar kon niemand kry wat al ooit so iets gesien het nie. Totaal onmoontlik, was die meeste se reaksie. Sy 74-jarige pa, Tom, wat met kalkoene grootgeword het, het spesiaal van sy eie kleinhoewe aan die ander kant van die stad gery om dit met sy eie oë te sien.
Beide Jaco de Wet, voorsitter van die Pluimveeklub van Suider-Afrika, en Craig Pretorius, kampioen-skoukalkoenteler van Schweizer-Reneke, het by navraag aan Landbouweekblad gesê hulle het nog nooit gehoor van 'n kalkoenmannetjie wat broei of selfs net help broei nie.
Pretorius sê dit sal interessant wees om te sien of Koeloe dit regkry om sy liggaamshitte korrek te reguleer, soos wat die wyfies doen, sodat kleintjies uiteindelik uitbroei.
Ook vir Jan van Biljon, bekende SA Vleismerinoteler van Viljoenskroon wat ook 'n geesdriftige teler van geveerdes is, is dit 'n eerste. Jan sê hy het al met kalkoene geteel, maar dis groot moeite, want die kuikens is vreeslik pieperig. “As die Augustus-winde so waai, stap hulle net heeldag wind-af en tjiet-tjiet.”