Die Karakoelskaap se fyn, spits spoor is oral in die suide van Namibië sigbaar. Met die eeufees van die Karakoelbedryf is hulde gebring aan dié unieke diere en aan die mense wat hulle oor die afgelope 100 jaar onderhou het.
Die Karakoelskaap bied vandag 'n unieke geleentheid om mense weer terug te bring na die plase in Namibië. Daarom het die regering dié bedryf as van strategiese belang verklaar en programme aangepak om die volle potensiaal daarvan te ontsluit.
Mnr. Nickey Iyambo, Namibiese minister van landbou, water en bosbou, het by die Karakoel-eeufees op Keetmanshoop gesê dat niks in die suide van die land tot stand gekom het waarin die spoor van die Karakoelskaap nie lê nie.
"Ons wil hê dit moet voortgaan. Daarom nooi ek die jong mense van die land om die uitdaging te aanvaar sodat daar weer soos in die 1970's 3 miljoen tot 4 miljoen pelse uitgevoer kan word.
"Nêrens elders in die wêreld kom swart diamante naas spoeldiamante in dieselfde streek voor nie. Karakoele, of swart diamante soos die mense hulle ook noem, maak van Namibië 'n spesiale land met spesiale mense en 'n spesiale produk," het hy gesê.
Mense uit al die lae van die bevolking het die eeufeesvierings op Keetmanshoop bygewoon waar 'n standbeeld ter ere van die Karakoel opgerig is.
Dit is voorafgegaan deur die jaarvergadering van die Karakoelforum wat deur sowat 200 boere bygewoon is, 'n optog deur die dorp met skoliere, 'n ruitergroep, boere en belangstellendes wat vanaf die oostelike ingang van die dorp deur die strate beweeg het.
Die hoogtepunt van die fees was 'n swierige dinee waarop die bedryf se presteerders vereer en toekennings uitgedeel is.
Toe sy die gaste in die dorp verwelkom het, het die burgemeester, me. Fiina Elago, die gemeenskap gevra om die standbeeld te respekteer vir wat dit verteenwoordig en onderneem dat die gemeenskap dit saam vir die nageslag sal bewaar.
In 'n boodskap van die president, mnr. Hifikepunye Phohamba, het hy ook hulde gebring aan die Karakoelbedryf wat die suide van die land gevorm het deur infrastruktuur te skep wat die welsyn van die landelike gemeenskap bevorder het.
Die ineenstorting van die pelsmark het die bedryf feitlik op sy knieë gehad, maar met die deursettingsvermoë van die mense en die regering se ondersteuning het die bedryf nie gesink nie.
Met die beter pelspryse in die jongste tyd het die bedryf weer sy kop opgetel. Sy wens is dat die versiendheid en innoverende gees van die mense in die bedryf sal voortleef. Die regering bied sy volle ondersteuning aan om die vennootskap met die bedryf uit te bou om die unieke dier met sy spesiale produk te bevorder, lui sy boodskap.
Landbouweekblad, 19 Oktober 2007